| |

Debatspanne blink uit in verrenoordstreeksuitdun van AfriForum se Dink of Sink-kompetisie

Ná twee jaar van virtuele kompetisies, vind vanjaar se AfriForum Dink of Sink- onvoorbereide debatskompetisie vir hoërskole tot almal se vreugde uiteindelik weer met uitdunrondtes by gasheerskole plaas. Die afgelope week is Dink of Sink se verrenoordstreeksuitdun met ’n opkoms van byna ’n honderd leerders by Hoërskool Merensky in Tzaneen aangebied.


Junior en senior spanne van Hoërskool Merensky, Hoërskool Ben Vorster, Hoërskool Louis Trichardt en Hoërskool Pietersburg het aan hierdie kompetisie deelgeneem.


Aanvanklik het twaalf junior spanne en veertien senior spanne kragte gemeet, waarna die twee beste junior en senior spanne onderskeidelik by ’n gala-geleentheid teen mekaar debatteer het om die verre noordstreek se wenspanne te bepaal.

Hoërskool Merensky het andermaal die deelnemers, onderwysers en gaste bederf met kenmerkende gasvryheid en ’n heerlike aandete, terwyl die sangeres Jezelle die gehoor op hulle voete gehad het met haar saamsingliedjies. Nantes Kelder van De Goede Hoop Koshuis in Pretoria het as gasspreker ’n besielende boodskap oor lewenskeuses gebring.

Ná ’n vuurwarm debat het Hoërskool Louis Trichardt se Junior Span 1 as wenners in die junior kategorie uit die stryd getree. Hulle opponente in die finale debat was Junior Span 1 van Hoërskool Merensky. Dit was ’n naelbytstryd en die beoordelaars glo dat daar nog groot prestasies op dié leerders wag.

Die senior stryd was ewe fel. Daar het Senior Span 1 en Senior Span 2, beide van Hoërskool Pietersburg, teen mekaar te staan gekom. Span 1 het net-net geslaag daarin om stof in die oë van hulle teenstanders te skop.

“AfriForum se betrokkenheid by die kompetisie het begin toe ons besef het hoe min die meeste jongmense van aktuele sake weet en hoe nodig dit is dat die jeug moet leer om op hulle voete te dink. Niks leer jongmense so goed om hulle menings met oortuiging oor te dra as juis gesonde debatvoering nie. Jaarliks sien ons hoe leerders die eerste keer deelneem en dit só geniet dat hulle net wil aanhou daarmee,” het Alana Bailey, AfriForum se hoof van Kultuursake gesê.

Nicolene Muller, wat as konsultant van AfriForum sorg dat al die reëlings vir die kompetisie seepglad verloop, was ewe opgewonde oor die feit dat die kompetisie weer by skole aangebied word. “Met die twee jaar se virtuele aanbiedings het ons die deelnemers se energie en aansteeklike entoesiasme gemis. Dit was wonderlik om weer saam te wees en die debatte eerstehands te beleef,” het sy gesê.

AfriForum spreek groot dank uit teenoor Hoërskool Merensky vir die bereidwilligheid om weer die kompetisie te huisves, asook teenoor elke deelnemer wat hiervan ’n sukses gemaak het. Die volgende uitdunne vind plaas by C&N Sekondêre Meisieskool Oranje in Bloemfontein op 25 Augustus 2022, Hoërskool DF Malan in Bellville op 9 September 2022 en Hoërskool Montana in Pretoria op 14 September 2022. Die nasionale finaal sal op 8 Oktober 2022 in Centurion aangebied word.

Volg gerus die verloop van die kompetisie op www.dinkofsink.co.za en AfriForumTV.