De Goede Hoop Koshuis nou nuwe studentetuiste
De Goede Hoop Koshuis het vandag hul deure geopen. Volgens De Goede Hoop se Bestuursraadvoorsitter, Cornelius Jansen van Rensburg, is die opening van De Goede Hoop ‘n belangrike mylpaal.
“Die doel met die De Goede Hoop-projek is om Afrikaanse studente se deelname aan die studentelewe te verseker. De Goede Hoop bied ’n tuiste vir dinamiese studente met Christenwaardes en wat ’n entoesiastiese gesindheid vir Afrikaans het. Dit is ’n tuiste waar jongmense aan gesonde studentetradisies kan deelneem en hul studentwees met selfvertroue kan uitleef”, sê Jansen van Rensburg.
De Goede Hoop is deur die burgerregte-waghond AfriForum geïnisieer nadat ‘n behoefte onder Tukkies-studente ontstaan het aan veilige studentebehuising weg van kampusbetogings en -geweld.
De Goede Hoop Koshuis is tussen die Tukkies-hoofkampus en die Groenkloof-kampus geleë en akkommodeer beide mans- en damestudente in aparte vleuels van die huis. Die De Goede Hoop Studentevereniging sal vanjaar reeds aan studente-aktiwiteite deelneem en ook ander geleenthede aanbied buite die Universiteit van Pretoria.
“Dit is ons hoop dat studente in De Goede Hoop ʼn uitnemende en waardegedrewe tuiste sal vind om te dien as anker gedurende die ongelooflike avontuur naamlik studentwees,” sluit Jansen van Rensburg af.