De Aar-rioolwerke al vyf jaar soos spookdorp
Munisipaliteit stort nou riool in velde, parke
Die rioolwerke in De Aar staan byna leeg en buite werking, daar is nie eens ’n wag by die ingang om die oorblywende toerusting op te pas nie. Dít is hoe die prentjie by hierdie rioolwerke nou al vir vyf jaar lyk.
Daarbenewens is die munisipaliteit nou besig om rou riool, wat by huise onttrek word, in parke en oop velde te stort. Ander rou riool word tans verby die rioolwerke na die Brakrivier-opvanggebied gekanaliseer.
Die munisipaliteit het in die verlede ’n tekort aan fondse blameer vir die toestand van die rioolwerke, maar van die R10 miljoen wat vyf jaar terug beskikbaar gestel is om die rioolwerker op te gradeer is daar niks om te wys nie.
Volgens Werner Strauss, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Kalahari, is riool nie die enigste probleem in De Aar nie. “Drinkwater is ook nou al vir die afgelope vyf jaar ’n reuseprobleem in De Aar, Hanover en Britstown. Dis ironies aangesien De Aar juis sy naam gekry het vanweë sy ondergrondse watervoorraad.”
Hoewel daar 59 boorgate op De Aar is, is slegs ’n skamele sewe in ’n werkende toestand, maar ook net-net. “Die boorgate wat wel bruikbaar is se pompe is te klein om die nodige kapasiteit te hanteer. Die gevolg is dat die waterdruk swak is en hierdie pompe ook dan minder water verskaf as waartoe dit in staat is.”
Strauss beklemtoon AfriForum se standpunt dat munisipaliteite hul trots moet sluk en hande moet vat met die privaat sektor om te verhoed dat werkende rioolwerke nie verval tot die toestand van De Aar se rioolwerke nie.
“Ons doen ’n beroep op die Emthanjeni Plaaslike Munisipaliteit om ons gemeenskapslede en omgewing se belange op die hart te dra. Die munisipaliteit het ’n verantwoordelikheid om werk te maak daarvan om die rioolwerke weer in ’n werkende toestand te kry en daardeur nie meer rou riool sommer in parke in te stort nie,” sluit Strauss af.