Cradock-tak skenk bome aan Hangklip-omgewingsklub
AfriForum se Cradock-tak het die afgelope naweek dié tak se deelname aan AfriForum se Nasionale Boomplandmaand-projek afgesluit en ’n dosyn inheemse bome aan leerders van die Hangklip-omgewingsklub geskenk om tuis te gaan aanplant.
“Deur inheemse bome te plant, bewaar ons nie net ons omgewing en maak dit ’n mooier plek om in te bly nie, maar ons wys ook dat ons hoop vir die toekoms het. Bome is veel meer as bloot ’n belangrike deel van die ekostelsel of ’n noodsaaklike natuurlike hulpbron – bome is simbolies van lewe,” sê Dwayne de Beer, Cradock-takbestuurslid verantwoordelik vir jeugsake.
“AfriForum poog om elke jaar bome te plant, nie net omdat dit goed is vir die omgewing en om klimaatsverandering te beveg nie, maar ook omdat dit ’n stukkie erfenis skep waarop ons kan trots wees,” sê Wikus van der Walt, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Oos-Kaap.