COVID-19: Staatsoptrede maak nie sin, maar beskerm jouself
Deur dr. Eugene Brink, strategiese raadgewer by AfriForum
Daar is soveel wat verregaande en onbekend is omtrent COVID-19 en die gepaardgaande inperking dat dit my verbaas hoe baie mense steeds probeer sin soek in wat die regering doen.
Die belaglikheid, irrasionaliteit en onbeholpenheid van pres. Cyril Ramaphosa en sy party en regering het selfs die Verenigde Nasies (VN) se Menseregtekommissie – wat self met menseregteskenders soos Soedan, Venezuela en Eritrea gelaai is – genoop om vroeër vanjaar die felheid van die aanvanklike inperking in Suid-Afrika as een van die ergstes ter wêreld te tipeer. Die uitermate gebruik van geweld en onderdrukking is juis as onaanvaarbaar uitgesonder.
Dan is daar als wat verbied word sonder gronde. Sigarette en tabak mag steeds nie verkoop word nie, terwyl daar geen wetenskaplike bewyse bestaan dat die gebruik daarvan werklik die verspreiding van die virus aanhelp nie.
En in die meeste van hierdie gevalle word ’n verantwoordelike meerderheid gestraf vir die sonde van ’n roekelose minderheid. Tallose burgerregte is vanjaar ingekort en baie van hierdie inkortings is steeds (of weer) van krag op grond van wat sommige mense verkeerd doen, die regering se heerssug en les bes, ’n totale gebrek aan wetenskaplike steun. Net omdat sommige mense nie maskers dra nie, nie aan sekere basiese higiëniese reëls gehoor gee nie en hulself te buite gaan aan drank, word baie van ons vryhede skielik van ons almal weggeneem.
‘Foute’ dalk opsetlik en kwaadwillig
Die vraag is of enige van hierdie maatreëls werklik doeltreffend is. Na ’n maand lange harde inperking (wat altyd nie lank sou kon aanhou sonder hewige gevolge nie) en toe ’n geleidelike verslapping, styg die getalle steeds met reëlmaat. Die getal infeksies verdubbel nou omtrent elke 18 dae. Die hospitale in veral Gauteng was nooit voorbereid hierop nie. Kortom, die antwoord op die vraag of hulle voorbereid is, is nee.
Nog ’n pertinente vraag – al is dit taamlik omstrede – is of die regering werklikwaar omgee of mense hulle werk, sakeondernemings en waardigheid verloor en – selfs meer omstrede – of dit nie dalk heimlik een van hulle doelwitte is nie.
Eerstens, staatsamptenare behou steeds hulle werk en inkomste in hierdie tyd. Enige poging om die staat se salarisrekening te besnoei, word deur die sosialistiese vakbonde se politieke woede begroet. En dan word die verskoning gebruik dat ’n kleiner staatsdiens net tot die werkloosheid in die land sal bydra. In der waarheid is ’n kleiner en doeltreffender staatsdiens ’n voorvereiste vir die ontsluiting van waarde in die privaat sektor, waar die meeste van die werkgeleenthede geskep behoort te word.
Terwyl politici en staatsamptenare steeds in hierdie tyd werksekerheid geniet, is daar egter nie in regeringskringe te veel gewetenswroegings oor hoe mense in die privaat sektor, wat aan markkragte blootgestel is, hulle werk en inkomste weens die staat se edikte en foute verloor nie.
As al die elemente in hierdie som bymekaar getel word, is dit ’n heel waarskynlike scenario dat hoër werkloosheid en groter staatsafhanklikheid inderdaad ’n ANC-doelwit is. Die sakesektor is op sy knieë gedwing en meer mense is derhalwe van ’n ANC-beheerde staat afhanklik vir als wat hulle benodig. Hulle het dan geen ander keuse as om aan te hou om vir die ANC te stem nie.
Moenie COVID-19 geringskat
Hoe dit ook al sy, hierdie regering het nie die wil of vermoë om ons te beskerm nie. Heelwat meer mense sterf jaarliks weens motorongelukke as wat vanjaar al weens COVID-19 dood is. Heelwat meer mense word vermoor en sterf aan kanker. Tog is daar geen inperking daarvoor nie. Ook geen antwoorde nie. Drank word nie verbied om motorongelukke te verminder nie. Of sigarette om allerlei tipes kanker te beveg nie.
Tog is COVID-19 steeds ’n groeiende gevaar en etlike duisende mense in Suid-Afrika is reeds daaraan oorlede. Honderde duisende is geïnfekteer. Selfs al was die oorlewingskoers 99% of meer, beteken elke sterfte dat iemand se broer, suster, kind, moeder, vader of grootouer dood is. Dit bly ’n menslike lewe en ons moenie vermakerig of ligsinnig oor enige sterfte raak nie.
Die uiteindelike boodskap wat ek wil beklemtoon, is dat ons gesondheid, veiligheid en welstand bykans uitsluitlik van onsself afhang. Daar is steeds ’n debat aan die gang oor of maskers wel doeltreffend is om die verspreiding van die virus te verminder. Dit word in die algemeen as aanbevole beskou en mense wêreldwyd gebruik dit om hulself suksesvol te beskerm. Sommige kundiges het straks ook goeie rede om maskers se algehele doeltreffendheid in twyfel te trek, of dalk word weersin daarin net om kulturele redes gekoester.
Om veilig te wees, dra dit eerder. Nie omdat die regering so sê nie, maar omdat jy omgee vir jouself en diegene om jou. Was jou hande. Vermy beknopte plekke (dis deesdae nie te moeilik nie). Handhaaf ’n veilige afstand tussen jou en ander mense in openbare plekke. Werk van die huis af as jy kan. Moenie jou kinders skool toe stuur as hulle siek is nie.
Dit is die klein goedjies wat die verskil in jou en ander se lewens gaan maak en sal seker maak dat ’n sweem van normaliteit ons weer beskore sal wees. Moenie ’n slagoffer word net omdat jy kwaad is dat iemand anders nie ’n masker dra of ander voorsorg tref nie. As jy dit nie vir iemand anders wil doen nie, doen dit vir jouself. Tree rasioneel op in ’n tyd van hiperirrasionaliteit.
Bowenal, moenie naïef wees oor die regering se ware bedoelinge in hierdie krisis of hulle ongeërgdheid oor jou lewe nie. “‘Emergencies’ have always been the pretext on which the safeguards of individual liberty have been eroded,” het die Oostenrykse ekonoom F.A. Hayek gesê.