COVID-19 se Suid-Afrikaanse kwarantynsage
Deur Alana Bailey, AfriForum-hoof vir Kultuursake
Sedert AfriForum se ontstaan behou die organisasie hegte bande met Suid-Afrikaners in die buiteland. AfriForum se Wêreldwyd-inisiatief is juis met dié doel geskep. Toe COVID-19-inperkings vroeg in 2020 oor die aardbol heen aangekondig word, was een van die tragiese gevolge dat heelwat landsgrense binne enkele dae gesluit is en heelwat Suid-Afrikaners in die buiteland gestrand was.
Hul gespook om gerepatrieer te word, is ’n artikel op sy eie werd. Ongelukkig het hul probleme nie verdwyn die oomblik toe hulle die grens oorsteek en voet op eie bodem sit nie. Dikwels het dit dan eers begin, want die Suid-Afrikaanse owerhede het besluit almal wat uit die buiteland kom, moet vir 14 dae lank in ’n staatsfasiliteit in aanhouding bly.
Aanvanklik was die betrokke owerhede nie almal ewe goed voorberei nie. Kort voor lank het klagtes oor die fasiliteite en oor inwoners se gerief, veiligheid en geestelike ontberings begin. Berigte hieroor het toenemend media-aandag geniet.
Min wêreldlande het op staatskwarantyn besluit. Die meeste het ’n vereiste van selfisolasie vir ’n aantal dae (meestal 14) voorgeskryf. Suid-Afrika het egter onwrikbaar by die voorskrif van kwarantyn in ’n staatsfasiliteit gehou. Dit het aan die een kant siniese kommentaar by sommige ontlok dat dit is omdat Suid-Afrikaners berug is daarvoor dat hulle nie by reëls hou nie. Ander het hardop gewonder wie room afskep wanneer staatsfasiliteite gehuur word.
Die aangewese plekke was wyd uiteenlopend: van luukse hotelle in stede tot kampterreine; ’n heringerigte hospitaal; selfs geriewe van Transnet, Eskom en Telkom aan die Oos-Rand.
Mense se reaksie op kwarantyn was ewe uiteenlopend. Sommige was eerlik daaroor dat hulle nie kan selfisoleer nie en dus in so ’n fasiliteit moet bly. Ander was selfs opgewonde oor die vooruitsig om in ’n hotel tuis te gaan wat hulle normaalweg nie sou kon bekostig nie. Vir mense met onderliggende toestande soos depressie of vir dié wat teruggekeer het om sterwende geliefdes by te staan, was die tyd in eensame afsondering in dié fasiliteite uiters traumaties. Ander mense het eenvoudig die sinvolheid hiervan en die onnodige besteding bevraagteken wat die maatreëls vir Suid-Afrikaanse belastingbetalers veroorsaak.
AfriForum se betrokkenheid het begin met mense wat dié kwarantyn tydens vlak 5-inperking aanvaar het, maar dan onverwags toegelaat is om huis toe te gaan en inderhaas vervoer moes reël om te kon tuiskom. Gou was dit duidelik dat kommunikasie tussen die oorhoofse owerhede, die afsonderlike fasiliteite se besture en die inwoners oor die algemeen swak was. Daar was min eenvormigheid: Mense het byvoorbeeld op dieselfde vlug in die land aangekom, maar is in twee verskillende hotelle gehuisves en dan is die een groep dae langer in kwarantyn gehou as die ander.
Namate maatreëls aangepas is, het dit nóg meer verwarrend geraak. Só is die vergunning later gemaak dat minderjariges wat uit buurlande na skole in die land terugkeer nie in kwarantyn hoef te bly nie – maar wel die ouers en kleuters wat hulle terugbring, selfs al wou hulle dadelik weer na die buurland teruggaan. Dié onvoorspelbaarheid het mense se weerstand teen verpligte kwarantyn net verder verhoog.
Een van die opspraakwekkendste gevalle was die groep wat in die Zithabeseni-vakansieoord gehuisves is. Sommige in dié groep het beswaar gemaak teen die onhigiëniese toestande waarin hulle moes bly. Foto’s van die vervalle, vuil akkommodasie het soos ’n veldbrand op sosiale media versprei. AfriForum het hul vrylating met regsaksie bewerkstellig.
Ten spyte van die media-aandag (wat ’n mens sou hoop ander fasiliteite sou waarsku om by die gesondheidsvereistes te hou wat vir hulle geld) het net meer klagtes begin opduik. AfriForum en ander betrokkenes moes onder meer inspring om hulp te kry vir mense met ernstige gesondheidsprobleme of spesiale dieetvereistes waarvoor daar nie voorsiening gemaak is nie; selfs vir alternatiewe akkommodasie waar verblyf net geheel en al onveilig vir die inwoners was.
Die bestuur van inligting hieroor het ook uitdagings gebied. Ná die Zithabeseni-geval was daar mense wat op repatriasie in die buiteland gewag het maar nie meer wou terugkom nie omdat hulle gemeen het dat hulle in “konsentrasiekampe” aangehou sou word. Aan die ander kant het mense wat hul kwarantyntyd aanvaar of selfs geniet het enigeen summier veroordeel wat nie met hul ervaring saamstem nie, sonder om die uiteenlopende toestande in ag te neem.
AfriForum het by die standpunt gehou dat mense wat kan selfisoleer sonder om hulself of die publiek in gevaar te stel die reg moet kry om dit te doen. Daar is met regsaksie in dié verband begin, maar dit het tyd geneem om uiteindelik in die hof aangehoor te word. Die feit dat mense met ernstige klagtes intussen hul kwarantyntye voltooi het en huis toe is, en dat reëls heeltyd verander, het sake nie bespoedig of vergemaklik nie.
Sake het versleg toe regulasies wat op 25 Mei 2020 in die Staatskoerant gepubliseer is ’n verblyf van ’n minimum van 14 dae in ’n staatsfasiliteit verplig het en die moontlikheid geopper het dat mense onder kwarantyn selfs dalk hiervoor sou moes betaal. Mense wat reeds deur fasiliteite in kennis gestel is dat hulle kon huis toe gaan sodra hulle “skoon” toets, moes skielik hoor dat hulle ’n week langer gaan aanbly.
Aanpassings moes vir die soveelste keer aan AfriForum se hofstukke gemaak word. Gedeeltes is deur die regter verwerp en die saak is opnuut uitgestel. Gerugte is verneem van nuwe regulasies wat opgestel word en AfriForum het besluit om die saak terug te trek en om eerder te kyk of nuwe regulasies inderdaad verskyn en wat dit bepaal.
Op 17 Julie 2020 het regulasies in die Staatskoerant verskyn wat inderdaad die keuse van selfisolasie moontlik maak. Dit het enkele dae geneem voor die aansoekproses, kontakadres en vorms gepubliseer is (sien https://www.wereldwyd.co.za/regulasies-vir-self-kwarantyn/). Tans weet mense onder kwarantyn steeds nie of hulle die volle 14 dae of net 10 dae sal moet bly, en of hulle moontlik vroeër mag huis toe gaan nie.
Weer is daar uiteenlopende reaksies. By een van die fasiliteite het ’n groot groep mense bewyse van ernstige probleme aan AfriForum gestuur en dringende ingryping gevra. Nadat ’n prokureursbrief aan die betrokke owerhede gestuur is, het hulle geantwoord dat die probleme opgelos word. Ander groepe wat in dieselfde fasiliteit was, het weer getuig dat hul ervaring positief was.
Etlike geriefsklagtes duik ook deurentyd van oor die land op, byvoorbeeld oor verblyf in beknopte kamers sonder toegang tot vars lug of die kans om bene te rek, onsmaaklike etes, onvoldoende porsies, stukkende elektriese toestelle, beperkte of geen data en swak internettoegang. Vir mense wat aanlyn studeer of werk, is laasgenoemde ’n krisis; minder ernstig maar ewe frustrerend vir die verveelde persoon wat met verlof is.
Ten slotte kan ’n mens maar sê dat geen pasgemaakte oplossing bestaan wat gaan werk vir almal wat gerepatrieer nie. Mense wat lank van die huis weg was en moet terugkom omdat werkskontrakte of studies ten einde loop, verblyfpermitte verval, buitelandse vakansie verby is of omdat hulle familie hier met een of ander ernstige nood moet kom ondersteun, beleef reeds die spanning van ingewikkelde reisreëlings, aansienlike hoër vervoerkoste, streng grensbeheer en lang wagtye. Wanneer hulle in die land aankom, behoort hulle menswaardig behandel te word en die keuse te hê om op só ’n wyse te isoleer wat hul eie fisiese én geestelike gesondheid – en ook dié van almal met wie hulle in aanraking kom – so ver moontlik beskerm.
Die nuwe regulasies is al ’n tree in die regte rigting, maar dit moet nog verder verfyn word. AfriForum bly verbind tot hulp aan alle gerepatrieerdes om ook so gou, vinnig en veilig moontlik deur hierdie tydperk te kom.
E-pos wereldwyd@afriforum.co.za of besoek www.wereldwyd.co.za vir meer inligting.