COVID-19 (koronavirus) en hoe dit ons as ouers en onderwysers raak
Deur dr. Annemarie Carstens, algemene praktisyn
Vanuit die staanspoor lyk gebeure soos die wêreldwye uitbraak van ’n nuwe virus wat reeds in ons midde is na ’n baie donker vooruitsig. Ons word oorval met negatiewe propaganda en nuus wat in die laaste paar dae aan massahisterie grens en nou ook ’n nasionale inperking.
Die groot vraag is nie wat die virus gaan doen nie – dit weet ons: Die virus gaan mense siek maak en versprei. Die virus kan slegs optree soos ’n virus. Die virus kan net oorleef in ’n gasheer, en in die geval van die koronavirus kan dit in mens en dier oorleef. Virusse hou van koue temperature. Daarom gaan die ergste verspreiding in die Suidelike Halfrond in die winter plaasvind ‒ soortgelyk aan wat ons nou in die Noordelike Halfrond gesien het.
Die vraag is: Wat gaan ons as gemotiveerde Suid-Afrikaners daaromtrent doen? Gaan ons net oorleef, of gaan ons dit as ’n geleentheid sien om te floreer, lesse te leer en met insig ons jongmense te lei en ons leiers te ondersteun?
Kan ons, soos tydens die Rugbywêreldbeker-toernooi in 2019 vir die res van die wêreld wys hoe ’n nasie kan saamstaan?
Ja – maar slegs as ons besef dat kennis mag is. Dit is egter nie naastenby so belangrik soos om moreel op te tree nie. Ons moet die reëls volg wat in plek gestel is om ons te beskerm en mekaar ondersteun deur kalm, realisties en objektief te bly.
Die koronavirus is nie ’n baie dodelike virus nie en die meeste mense gaan geringe tot matige griepsimptome toon. Ons moet baie dankbaar wees hieroor. Die slegte nuus is egter dat die inkubasietydperk, soos ander respiratoriese infeksies, tussen twee en 14 dae kan wees. Dit beteken mense kan mekaar oor lang tydperke bly aansteek. Ons weet ook dat ons die koronavirus moontlik kan vermy deur goeie persoonlike higiëne toe te pas. Ons moet ook nie tydens enige siekte-uitbraak na groot byeenkomste toe gaan nie.
Ons moet die gesondheidstelsel ondersteun deur dokter toe te gaan as ons siek voel – maar nie uit vrees of nuuskierigheid of net om getoets te word nie. Tans is die kriteria steeds dat jy direk kontak moes hê met ‘n persoon wat positief vir die koronavirus getoets het, of jy moes self in ’n hoërisikogebied gereis het (wat nou geleidelik kan verander).
Dit is vreesaanjaend om te besef dat ons besluite moet neem oor situasies waaroor geen mens sekerheid het nie, maar die werklikheid is dat dit vir dokters deel van ’n normale, stresvolle dag is. Vir die meeste gesondheidswerkers is hierdie nie ’n vreemde situasie nie. Medici werk nie net hard omdat die publiek hulle dophou of omdat daar ’n splinternuwe virus uitbreek nie. Deel van ons standaardopleiding is hoe om met mense met dodelike of aansteeklike siektes te werk, en medici is gewoond daaraan om reëls en regulasies te volg.
Suid-Afrika het uitstekende mediese spanne. Ons het viroloë, superspesialiste, algemene praktisyns en hospitale met hul verpleegpersoneel wat gereed staan en gereelde publieke oordeel ten spyt áltyd hulle bes doen.
Waarteen ons as dokters egter moet waak, is dat die koronavirus nie ons aandag só beset dat ons die hartaanval of malariapasiënt mis omdat ons nie paraat bly nie.
Moet asseblief nie jou roetineafspraak by byvoorbeeld jou hartspesialis kanselleer of jou operasie uitstel as dit dringend was nie. Neem jou kinders steeds vir hul inentings en hou jou algemene gesondheid dop.
In dié koronaramptoestand is dit eerstens van kardinale belang om voorkomend op te tree. Dit beteken ook om algemene gesondheid ernstig op te neem. ’n Sterk immuniteitstelsel gee jou ’n goeie kans op oorlewing van virusinfeksies.
Leer kinders en jongmense om hulself en hul liggame waardig te ag, en om ander te respekteer. Hulle moenie skool toe gaan as hulle siek is nie en hulle mag nooit voel dat hulle lui of swak is as hulle siek voel nie.
Interessant genoeg blyk dit dat die koronavirus nie jongmense en kinders ernstig siek maak nie. Onthou egter: Dit beteken nie dat hulle nie die virus kan versprei nie.
Die elmbooggroet is glad nie so verregaande nie en daar is baie ander kreatiewe wyses om kinders te leer om verwelkomend te wees sonder direkte aanraking. Hulle help graag siek mense en hou van fisiese kontak. Die ou gewoonte dat mens nie kinders en babas soen nie, moet streng toegepas word – selfs deur hul eie ouers.
Die koronavirus kan, soos enige ander griepvirus, die hartspier beskadig en selfs ernstige siektes veroorsaak. Kinders moet nooit gedwing word om sport te doen as hulle siek voel nie.
Dis baie belangrik om verspreiding van valse inligting te voorkom. Lees inligting oor die koronavirus slegs op gesaghebbende webtuistes soos www.sacoronavirus.co.za of www.korona.afriforum.co.za pleks van jou tyd te mors deur sinnelose opinies op sosiale media te lees. Kry ook goeie persoonlike raad by ’n professionele geneesheer eerder as veralgemeende menings oor jou simptome op die internet.
En dan die X-faktor: die wil om ’n verskil te maak en kameraadskap. Eendrag maak immers mag!
Ten slotte haal ek vir C.S. Lewis aan toe hy tydens die Koue Oorlog gevra wat mense moet doen as hulle met ’n kernbom aangeval word. Dit was sy antwoord: As ons deur ’n kernbom vernietig moet word, laat die bom, wanneer hy kom, ons vind terwyl ons met sinvolle dinge besig is – besig om te bid, te werk, te onderrig, musiek te luister, ons kinders te bad, tennis te speel en met ons vriende oor ‘n glas bier te gesels terwyl ons veerpyltjies speel – en nie saamgedrom soos bang skape besig om oor bomme te dink nie. Dit kan ons liggame breek (enige mikro-organisme kan dit doen), maar hulle hoef nie ons denke te domineer nie.
Dr. Annemarie Carstens
MBChB, Dip PEC
Algemene praktisyn
Verskaffer van gevorderde lewensondersteuning (American Heart Association)
Sertifikaat in reismedisyne en beskik oor ’n resepteringslisensie