COPE en AfriForum vat hande in teenstand teen Grondwetwysigings


COPE en AfriForum het vandag by ’n gesamentlike konferensie in Pretoria aangekondig dat hulle kragte gaan saamspan om te versoek dat die Suid-Afrikaanse publiek en die internasionale gemeenskap druk toepas om te verhoed dat die ANC/parlement sonder ’n wettige mandaat vanaf Suid-Afrikaanse kiesers optree in hul onwettige poging om die Grondwet te wysig, en om ook die Grondwet, eiendomsreg, die ekonomie en die 1994-skikking te beskerm.
Mosiuoa Lekota, president van die Suid-Afrikaanse opposisieparty COPE, en Kallie Kriel, uitvoerende hoof van die burgerregte-organisasie AfriForum, sal buitelandse ambassades in Suid-Afrika saam besoek om te versoek dat die internasionale gemeenskap druk op die Suid-Afrikaanse regering en die regerende ANC toepas om die Suid-Afrikaanse Grondwet, eiendomsreg en die 1994-skikking te eer asook dat die ANC moet aanvaar dat hulle nie ’n wetlike mandaat via ’n verkiesing vanaf Suid-Afrikaanse kiesers het om die Grondwet te wysig nie. Die ambassades wat besoek sal word, sal bekend gemaak word sodra die afsprake gemaak is.
COPE en AfriForum se besluit om die Grondwet, eiendomsreg en die 1994-skikking te verdedig, kom ná president Cyril Ramaphosa se aankondiging op 31 Julie vanjaar dat hy en die ANC besluit het om die eiendomsregklousule in Artikel 25 van die Suid-Afrikaanse Grondwet te wysig om onteiening sonder vergoeding toe te laat.

Volgens Lekota het president Ramaphosa se aankondiging om die Grondwet se voorwaardes in terme van eiendomsreg te verander sy ampseed verbreek, asook Artikel 83(b) van die Grondwet, wat stipuleer dat die president van Suid-Afrika die Grondwet moet handhaaf, verdedig en respekteer. Lekota wys aan dat die wysiging van die Grondwet die alleenreg van Suid-Afrikaanse kiesers is en nie van die ANC, Ramaphosa, die parlement of enige party nie. Die Desember 2017 Nasrec-konferensievoorneme deur die ANC geld nie as ’n regmatige mandaat vanaf Suid-Afrikaanse kiesers nie. Die parlement se geldigheid is ook in twyfel ná hulle gefaal het om Zuma verantwoordbaar te hou en daarom is hul besluit om die moontlike wysiging van die Grondwet om toelating vir grondonteiening sonder vergoeding moontlik te maak verder nie wettig nie. President Ramaphosa het geen wettige mandaat van Suid-Afrikaanse kiesers ontvang om op só ʼn wysiging aan te dring nie. Die grondverhore magtig ook nie ’n wettige mandaat vanaf Suid-Afrikaanse kiesers nie, omdat nie alle Suid-Afrikaanse kiesers in hierdie verhore kon deelneem nie.
Kriel merk op dat die Suid-Afrikaanse Grondwet en die beskerming van eiendomsreg soos dit daarin vervat is die resultaat van onderhandelde skikking was wat in die vroeë 1990’s tussen verskeie partye geskik is, waarvan die ANC en die destydse Nasionale Party die hoofrolspelers was. “Ramaphosa en die ANC se besluit om die Grondwet te wysig dui ongelukkig aan dat die ANC die 1994-skikking openlik verbreek. Omdat internasionale druk ’n rol gespeel het in die oorreding van die verskeie partye om tot die 1994-skikking te kom, het die internasionale gemeenskap nou ook ’n verantwoordelikheid om te help toesien dat die ANC by daardie skikking hou,” sê Kriel.

COPE en AfriForum beskou hul samewerking om eiendomsreg te beskerm as ’n positiewe voorbeeld van hoe burgers vanuit verskillende agtergronde, en wat somtyds verskillende oogpunte het, wel suksesvol kan saamwerk deur wedersydse erkenning en respek en deur te fokus op sake van gedeelde belang. Volgens Kriel is die beskerming van eiendomsreg iets wat in die algemene belang van elke Suid-Afrikaner moet wees, omdat die huidige Zimbabwiese werkloosheidskoers van 90% bevestig dat almal behalwe ’n baie klein elite groep ly as die skending van eiendomsregte ’n land se ekonomie vernietig. Lekota sê dat grondhervorming nodig is en verwelkom word, maar nie in die manier wat Zimbabwe gevolg het nie – wat chaoties, verwarrend en rampspoedig vir die ekonomie was. Ons moet dit ten alle koste vermy. Grondhervorming moet duidelik, wettig en regverdig wees; nie rasverdelend nie, en moet tot ekonomiese ontwikkeling lei en nie tot ekonomiese ineenstorting nie. Die huidige resessie en swak presterende landbousektor moet vir almal van ons ’n groot waarskuwing wees.
Volgens COPE en AfriForum maak ’n samewerkende houding wat op wedersydse erkenning en respek geskoei is dit moontlik vir verskillende groepe om selfs ’n verstandhouding oor sensitiewe en emosionele sake te ontwikkel. ’n Voorbeeld is dat beide COPE en AfriForum saamstem dat apartheid ’n ernstige skending van die waardigheid en regte van swart Suid-Afrikaners was. Ons standpunt is nie ter verdediging van apartheid of kolonialisasie nie, maar dat Afrikaners as ’n gemeenskap nie gesamentlik geblameer en gestraf kan word nie; dit sal ’n onreg wees. Ons doel is ook nie om op een of ander manier te argumenteer of te regverdig waarom swart Suid-Afrikaners minder eiendom as hul wit landgenote besit nie; dit sou afleidend en verdelend wees. Suid-Afrikaners van alle gemeenskappe mag nie toelaat dat ʼn populistiese alliansie ons verdeel nie, of haat en geweld veroorsaak tot voordeel van die regerende elite of sodat hulle oor ons kan regeer te midde van ons verdeeldheid nie. Dit sal die nalatenskap van oudpresident Nelson Mandela verloën.

Soortgelyke plasings