|

Coligny se wonde is baie diep

Coligny, die vergete en vergane plattelandse dorpie in Noordwes, sal nooit weer dieselfde wees nie.

Byna ’n maand nadat betogings, plundertogte en brandstigting talle inwoners onverhoeds betrap het, is die gemeenskappe steeds verpletter en uitmekaar geruk. Daar is ’n onderliggende verslaentheid, onrustigheid, wantroue tussen mense van verskillende rasse en ’n algemene gevoel van waarheen nou?

Die inwoners van dié dorpie, wat eens ’n suksesvolle boerderygemeenskap ingesluit het en waar diamante selfs in ’n stadium gedelf is, is moeg. Voos. Hulle is sku, skugter en waaksaam. Daar word openlik na vreemde besoekers in die dorp gestaar en baie draai net kop weg as jy wil uitvind hoe dit nou na die onlangse gebeure gaan.

Daar is ook geen eenstemmigheid oor wat tot die vlaag van vernietiging aanleiding gegee het nie. Party sê dit gaan oor diensleweringskwessies. Die mense is moeg oor leë beloftes wat die ANC-regering gemaak het. Hulle voel in die steek gelaat en weggegooi omdat hulle na soveel jare nog nie water, elektrisiteit of sanitasiegeriewe het nie. Ander sê dis die dood van die tiener Matlhomola Jonas Mosweu wat die lont in die kruitvat was. Hy is dood nadat hy na bewering van ’n bewegende bakkie afgespring het toe Pieter Doorewaard en Phillip Schutte hom na die polisie wou neem omdat hy glo sonneblomme gesteel het. Hulle is van moord aangekla en lede van die gemeenskap het in opstand gekom toe hulle borg gekry het.

Daar is ook lede van die gemeenskap wat oortuig is dat politici agter die gebeure sit en dat ’n jong verlore generasie deur iemand van iewers aangehits word om anargie te saai. Waarom anders sou soveel vreemdelinge met busse na Coligny aangery word om aan die plundering deel te neem?

Daar is ook baie vrae oor Mosweu. Waar was sy ouers van die begin af? Waarom kom ’n ma of pa eers tien dae later na vore as jou kind dood is? Hoekom was die kind nie in die skool nie?

“Ons hoor net al hierdie stories. Ons weet nie regtig wat gebeur het of waarom dit gebeur het nie,” sê Azat Bahar, ’n winkeleienaar wat groot verliese in die dorp en informele nedersetting gelei het.

Hy is van Bangladesj afkomstig en woon reeds twee jaar in Coligny. “Ek het baie hard gewerk en baie geld hier belê. Ek wil hier bly en besigheid doen.”

Maar dis eintlik mense soos Cobus van Tonder, bestuurder van TCC Vervoer en Bande en ’n steunpilaar in die dorp, wat ’n goeie aanvoeling het oor hoe die meerderheid mense in die dorp voel. Hyself het derduisende rande se skade gelei met vragmotors wat uitgebrand is, diefstal en skade aan sy perseel.

“Dit help nie om doekies om te draai nie. Ek is gatvol. Ek is die afgelope 17 jaar hier en het nog net goed gedoen vir wit én swart in hierdie dorp. Ek is kwaad oor wat hier gebeur het. Dit gaan mense jare neem om weer op hul voete te kom en party dalk glad nie.”

Hy het ook nie woorde om sy teleurstelling teenoor die regering uit te druk nie. “Hulle was vinnig om ná die gebeure in hul blink karre en pakke hierheen op te ruk en allerlei aantygings te kom maak. Ons wag nóú nog om te hoor hoe die mense vir hul verliese vergoed gaan word.”

Intussen probeer regeringslui die inwoners van Scottland, die informele nedersetting, paai met Lindiwe Sisulu, minister van menslike nedersettings, se aangekondig dat haar departement vir Mosweu se ouers ’n nuwe huis gaan bou. Mosweu het ook intussen ’n reusegrafsteen gekry tussen die hopies ander rooigrond in die begraafplaas waar hy te ruste gelê is.

Dis dieselfde regering wie se groot manne soos Daniel Buthelezi, burgemeester van die Ditsobotla-munisipaliteit, en ander LUR’s uitgejou en weggejaag is toe hulle inwoners van die Tlhabologang-township wou toespreek. Buthelezi is weens swak dienslewering gister ure lank in die munisipale kantore in Lichtenburg gyselaar gehou. Betogers het ook dié gebou aan die brand gesteek.

En dan is daar Supra Mahumapelo, premier van Noordwes, wat gedink het hy kan ’n paar politieke punte aanteken toe hy verklaar het dat Mosweu “aan die hande van wit mense” dood is. Hy moes daarna herhaalde oproepe maak dat die gemeenskap hul gewelddadige optrede moet staak.

Boeta du Toit, hoofbestuurder van Agri Noordwes, meen Coligny is ’n politieke speelbal. “Politici sweep die arm massas op en brandmerk boere as rassiste om die aandag van hul eie swak prestasies en gebrekkige dienslewering af te trek.”

Cobus van Tonder  het Forum Nuus op ’n toer deur die dorp geneem om te wys waar die inwoners stadig maar seker begin het om hul geplunderde winkels se vensters en ander skade te herstel. Diefwering en ander traliewerk word egter ook nou aangebring om ’n herhaling van die gebeure te probeer voorkom.

Op ’n vraag hoe hy Coligny se toekoms sien, skud Van Tonder sy kop. “As ek ander geleenthede kry, is ek weg. En ek is nie die enigste een nie. Ek het meer as 40 mense in diens. Wat help dit ek bedryf ondernemings wat nie oop kan bly nie? Hier is geen dienslewering in hierdie dorp nie.

“Baie van ons het alles in ons vermoë gedoen om te help net waar ons kan – sopkombuise, borgskappe vir kinders se sportklere, bydraes vir die polisie se jaareindfunksie, herstel van waterpype, skoonmaak van strate. Noem maar op. Maar dis nou klaar. Dié kraantjie is toe…”

Maar daar is ook kwesbare mense in Coligny, soos oom Ertjies (Michel Erke) wat op 66 as motorwag in Lichtenburg werk. “Ek is my hele lewe lank in Coligny en het nêrens heen om te gaan nie. Maar ek wil glad nie meer hier bly nie. Hier is geen dienslewering nie. En ek is bang.”

Ook Annia Sekgopolo verwoord hoe baie voel. “Die polisie doen niks nie. Ons het ook ’n kleintjie begrawe wat ’n jaar terug dood by die ghwarrie-gat gekry is. Die polisie het gesê hulle sal ondersoek instel en niks het ooit daarvan gekom nie.”

Oor haar verhouding met ander mense sê sy: “Ek het nie probleme met enigiemand nie. Ek werk al drie jaar by mev. Van Zyl. Sy is goed vir my en ons het nooit probleme nie.”

Coligny het op 23 Julie 1923 ’n dorp geword. Dit is na die Hugenote-leier Gaspard de Coligny vernoem wat in die Bloedbad van St. Bartholomeusnag in 1572 omgekom het.

Historici het lank gedebatteer oor wat die oorsake van dié bloedbad was … Vandag word daar algemeen aanvaar dat dit net verstaan kan word in die lig van gevaarlike politieke ontwikkelings en siedende geloofswrokke wat daardie dekade voorafgegaan het.

In Coligny in Suid-Afrika is ’n bloedbad in 2017 afgeweer. Maar daar is baie bekommerdes wat vra: Vir hoe lank nog? Hoe lank kan Coligny uithou? Hoe lank kan al die ander klein dorpies wat besig is om ten gronde te gaan, uithou?

Hoe lank sal die massas wat stygende verwagtings het en besig is om geduld met ’n korrupte en selfbehepte regering te verloor, nog tevrede wees om net aan protesoptogte deel te neem?

Niemand weet nie. Maar intussen moet die samelewing aan die gang gehou en wet en orde gehandhaaf word.

Dít is waarom AfriForum en Solidariteit Coligny onlangs besoek het sodat daar na werkbare planne en strategieë gekyk kan word om gemeenskappe te bemagtig en te beveilig.

Coligny was voordat dit ’n dorp geword het ook as Treurfontein bekend. Sekerlik wil niemand sien dat dit ’n selfvervullende profesie word nie…

Soortgelyke plasings