|

Christiana-tak woeker voort met goeie diens aan gemeenskap

Die AfriForum-tak in Christiana het ’n besige Meimaand agter die rug. Die tak het onder meer goedvoel-projekte geloods en deurlopend patrollies in die dorp gery.

Die tak het op Moedersdag (8 Mei) altesaam 85 kolwyntjies aan die ma’s in die SAVF Edith Smith Tehuis in Christiana uitgedeel en ook gehelp om middagete te bedien. Die doel van hierdie aksie was om die ma’s in die tehuis te bederf en om tyd saam met hulle te spandeer. 

“Dit is vir ons belangrik om ons inwoners in die tehuis spesiaal te laat voel en die jeug in te span om sodoende goeie verhoudings met mekaar te bou.  Ons wil graag meer doen om almal in die gemeenskap by projekte te betrek en saam ’n verskil in ons dorp te maak,” sê Bianca van der Westhuizen, voorsitter van die Christiana-tak.

Die buurtwag het ook deurlopend patrollies gery om misdaad te bekamp en sigbaarheid in die dorp te verhoog met die doel om misdadigers die gebied te ontsê.

“Dit is belangrik om misdaad in gemeenskappe te bekamp. AfriForum se buurtwagte speel ’n kenmerkende rol in die geveg teen misdaad en daarom is dit belangrik om doeltreffende patrollies in dorpe uit te voer.  AfriForum se Christiana-tak sal voortgaan om sigbaarheid in die gemeenskap te verhoog en bystand te bied waar nodig,” sê Jp Nel, AfriForum se distrikskoördineerder vir Stellaland.

Die AfriForum-tak in Christiana beplan om verskeie projekte in die komende maande aan te pak en wil graag die gemeenskap uitnooi om saam aan hierdie aksies deel te neem. Die tak het ook ’n sterk jeugvleuel en wil graag die jeug nooi om ook meer betrokke te raak by aksies wat gedryf word. Besoek gerus “AfriForum Christiana” op Facebook vir meer inligting oor toekomstige projekte.

Raak vandag nog by AfriForum betrokke. Jy kan help om jóú omgewing te verbeter: SMS jou naam na 45340 (R1).

Soortgelyke plasings