|

Chrissiesmeer rommelvry, danksy AfriForum

AfriForum se Ermelo- en Chrissiesmeer-tak het in September met hul volhoubare skoonmaakprojek in Chrissiesmeer 36 sakke vullis uit die dorp se asdromme verwyder.

Danksy hierdie projek, wat in Julie afgeskop is, is alreeds meer as 70 sakke vullis verwyder. Dit is ’n indrukwekkende syfer aangesien daar aanvanklik geen asdromme was vir mense om rommel in te gooi nie. Die dorp is ook geheel en al skoner sedert hierdie diens maandeliks gelewer word. Die moontlikheid bestaan ook om dié diens uit te brei.

“Met AfriForum se #OnsSalSelf-benadering is ons besig om ons dorp na sy volle prag en glorie te herstel,” sê Millicent van den Heever, leier van AfriForum se Chrissiesmeer-buurtwag.

Die dorpie se afhanklikheid van toerisme was erg in gedrag as gevolg van die dorp se algehele netheid wat die Msukaligwa Plaaslike Munisipaliteit agterweë gelaat het. Vir jare al is daar geen munisipale dienste wat verantwoordelik is om die dorp skoon te hou nie. Die onus rus nou op die inwoners van Chrissiesmeer om die dorp te versorg.

“Ek is dankbaar vir hierdie diens wat AfriForum in die dorp lewer. My onderneming ontvang meer besoekers, want die omgewing is skoon en veilig. Dit is ’n bewys dat ’n gemeenskap inderdaad ’n verskil kan maak as die wil daar is,” sê Jannie Bezuidenhout, eienaar van Frog Coffee Shop in Chrissiesmeer.

Soortgelyke plasings