Centurion-tak rig sy visier op kabeldiewe
AfriForum se Centurion-tak het gister nóg twee veiligheidskameras in die omgewing van Eldoraigne geïnstalleer om kabeldiefstal hierdie Kerstyd hok te slaan. Die uitbreiding van die bestaande veiligheidsnetwerk volg nadat groot dele van Centurion vier keer in een week sonder elektrisiteit gesit het weens kabeldiefstal. Dié AfriForum-tak het reeds in September ’n kamera by ’n substasie in die gebied opgerig wat gereeld onder diefstal deurloop.
“AfriForum takel hierdie probleem van die begin van die jaar af deur gereelde patrollies te ry en veiligheidskameras te laat installeer. Die nuwe uitbreiding sal egter help om ’n wyer area te dek om kabeldiefstal hok te slaan,” sê Dewet Ungerer, AfriForum se distrikskoördineerder vir Groter Pretoria-Suid.
AfriForum se Centurion-tak het reeds sterk bande met die Tshwane Metropolisie (TMPD) gesmee en bied gereeld bystand in gevalle van kabeldiefstal. Ungerer doen dus ’n beroep op die gemeenskap om betrokke te raak by organisasies wat oplossings bied vir hierdie reuseprobleem.
“Almal in die gemeenskap gaan hul kant moet bring om hierdie vlaag van kabeldiefstal te stop, anders gaan die hele gemeenskap net weer in die donker gelaat word,” sê Ungerer.
Raak vandag nóg by AfriForum se Centurion-tak betrokke deur ’n epos aan centurion@afriforumtak.co.za te stuur of sluit as ’n lid van die tak aan deur www.wordlid.co.za te besoek.