|

Buitengewone hoë matriekuitslae in 2019 skets nie die waarheid

AfriForum wens almal wat die matriekeksamen van 2019 geslaag het, asook die toegewyde onderwysers wat hulle getrou bygestaan het, van harte geluk met dié prestasie. Terselfdertyd word met groot kommer kennis geneem van 2019 se amptelike slaagsyfer van 81.3%. Alhoewel dit baie hoog is, skets dit ongelukkig nie die volledige en ware prentjie van die toestand van onderwys in die land nie.

Carien Bloem, bestuurder van onderwyssake by AfriForum, noem dat die 2008 School Realities-verslag aandui dat daar 1 090 254 leerders daardie jaar in graad 1 was. Volgens statistiek wat die minister van basiese onderwys, Angie Motshekga vandag bekendgemaak het, het slegs 616 754 voltydse leerders altesaam vir die 2019-matriekeksamen ingeskryf. Dit beteken dat meer as 40% van die 2008-groep nie eens die matriekeksamen gehaal het nie – wat nog van geslaag het.

“Wanneer matriekuitslae jaarliks gevier word, fokus die departement op die prestasies van enkele individue en skole, maar hierdie jongmense wat uit die stelsel verdwyn, word gelaat sonder vaardighede waarmee hulle ’n betekenisvolle rol in die uiters kompeterende arbeidsmark kan speel. Selfs die minister se verwysings na leerders wat bygestaan is om matriek te herhaal, stel nie gerus nie – dit is ontstellend is om te dink dat jongmense só lank in die skoolstelsel was voordat hulle betekenisvolle hulp ontvang het.”

 

“Die hoë slaagsyfer in elke provinsie skep die idee dat daar talle kundige jongmense beskikbaar is vir verdere opleiding en indiensneming in die arbeidsmark. In werklikheid is dit oëverblindery en het talle leerders matriek geslaag bloot as gevolg van die lae slaagvereistes. Hulle beskik steeds nie oor waardevolle lees-, skryf- en begripsvaardighede wat hulle in staat moet kan stel vir indiensneming nie,” sê Bloem.

Bloem beklemtoon dat die oplossing onder meer te vinde is in

  • ’n groter aanbod van moedertaalonderrig;
  • streng optrede teen ideologies gedrewe polariserende uitsprake en optrede (soos dié van Gauteng se LUR vir onderwys, Panyaza Lesufi);
  • meer doeltreffende kurrikulumopsies;
  • tydige aflewering van handboeke;
  • die vasvat van onderwysvakbonde wat onderrig lamlê;
  • minder negatiewe inmenging ten opsigte van ouers en skoolbeheerligame se bestuursregte;
  • die skep van meer opleidingsgeleenthede vir onderwysers; en
  • kragdadige aksie teen ’n gebrek aan dissipline onder leerders en onderwyspersoneel asook veiligheid en instandhouding van skole.

Soortgelyke plasings