| | |

Brits-tak skaf herhalers aan om kommunikasie-uitdagings te oorkom

AfriForum se Brits-tak het onlangs besluit om twee herhalers aan te skaf om die uitdagings wat deur die topografie van die omgewing veroorsaak word op te los. Die area se bergagtige landskap, koppies, valleie en dig beboste gebiede maak dit moeilik om radioseine doeltreffend te stuur.

Kommunikasie speel ’n uiters belangrike rol in die veiligheidsektor aangesien goeie kommunikasie die verskil tussen lewe en dood kan beteken. Die meer as 400 radiolede is toegerus met sowat 700 hand- en mobiele radio’s. Die twee nuwe herhalers stel die lede in staat om duidelik en vinnig met Brits se Gemeenskaplike Operasionele Sentrum (GOS) te kommunikeer.

Die dekkingsgebied strek van Hartbeespoort aan die voet van die Magaliesberg deur Hornsnek en Beestekraal tot anderkant Majakaneng. Lede met mobiele radio’s in hul voertuie kan suksesvol met die GOS kommunikeer terwyl hulle van Koster af reis. Die herhalers dek ’n indrukwekkende area van sowat 117 km2.

Die herhalers is baie effektief omdat dit op ’n hoogte van 1 580 meter bo seespieël geplaas is terwyl Brits net sowat 1 120 meter bo seespieël geleë is. Dit skep robuuste kommunikasie-infrastruktuur wat die hele area diens.

Die belangrikheid van ’n betroubare alternatiewe kommunikasiebron kan nie genoeg beklemtoon word nie, veral wanneer dit as ’n hulpmiddel gebruik word om misdaad te beveg. Die aansienlike beurtkragskedules in die Brits-area veroorsaak gereeld dat daar geen selfoonsein beskikbaar is nie. Die herhalers word deur sonpanele en batterystelsels ondersteun, wat ononderbroke kommunikasie te alle tye volhoubaar maak en verseker.

“Die herhalers is ’n belangrike tree in ons strewe na ’n veiliger gemeenskap. Ons is bewus van die uitdagings wat ons unieke landskap bied en hierdie herhalers gaan ons help om ons gemeenskap veiliger te hou,” sê Stephan Roos, AfriForum se voorsitter van die Brits-tak.

Raak vandag nog by die Brits-tak betrokke. Skakel Johan de Klerk by 082 415 0987.