|

Bothaville se AfriForum-buurtwag gee hulle beste vir die gemeenskap

Die AfriForum-buurtwag in Bothaville het gedurende Oktober baie ure ingesit om die gemeenskap veilig te hou. Hulle het bystand verleen om talle insidente op te los of te ontlont.

Tydens beurtkrag is die geleentheid vir misdaad soveel groter en dit was juis tydens beurtkrag dat patrollielede op boosdoeners afgekom het wat elektriese kabels gesteel het. Hulle het ongelukkig ontglip, maar hulle toerusting is wel op die toneel gekry. Dis jammer dat Nala munisipaliteit nie wagte by die substasie gehad het soos ooreengekom nie, want kabels in ’n teiken tydens buurtwag.

Tydens ’n protesaksie van die munisipaliteit se vakbond by die Spur is die Landelike Beveiliging, wat die AfriForum-buurtwag insluit, se gebeurlikheidsplan geaktiveer en die SAPD bygestaan om die betogers in bedwang te hou. Hulle kon net na die munisipaliteit beweeg en is weggekeer uit die res van die dorp.

By ’n volgende geleentheid het die buurtwag inligting ontvang van twee verdagtes wat koper wou verkoop. Die buurtwag het saam met ’n sekuriteitsmaatskappy gereageer en die verdagtes is vasgetrek. Die koper is suksesvol verbind met ’n substasie wat daardie oggend getref is. Die verdagtes is aan die SAPD oorhandig.

Tydens die staking van die Sedibengwerkers by Balkfontein het die vakbond en die werkers een oggend die pad na Hoopstad versper en binne minute het die reaksiegroep van Landelike Beveiliging daar ’n stokkie voorgesteek en die pad was weer oop. Later die middag is ’n Sedibengwerker wat teen die staking gekant is, se huis in Bothaville deur ongeveer 30 stakers geteiken. Die buurtwag was binne minute op die toneel en die stakers het die aftog geblaas.

“Ons gaan die feestyd in en ons kan reeds sien dat insidente besig is om toe te neem.  Ons vra dat indien daar onraad gemerk word, die noodnommer dadelik geskakel word. Ons is bewus daarvan dat Vodacom nie werk as die krag af is nie, dus het ons die noodfoon só gestel dat die oproep dan by twee addisionele lede sal uitkom,” sê Gawie Pretorius, AfriForum se buurtwagleier in Bothaville.

“Hierdie is weereens ’n bewys dat Afriforum se spesialis opleiding, toerusting,  plaaslike en nasionale radionetwerke en samewerking met ander rolspelers uiters suksesvol is.  Die feit dat gemeenskapslede inligting direk aan die buurtwag kan kommunikeer, maak vinnige optrede deur die buurtwag moontlik. Dit skep ook vertroue by die gemeenskap en verskerp waaksaamheid en weerbaarheid om misdaad in die gebied hok te slaan. Goeie samewerking tussen die buurtwag, polisie en plaaslike veiligheidsinstansies stel ons in staat om die gemeenskap in tye van nood by te staan,” sê Joseph Renaud, AfriForum se veiligheidstreekshoof vir die sentraalstreek.

“Die buurtwag is van groot waarde in hierdie gemeenskap. Ek het groot waardering vir elke lid wat sonder vergoeding hul tyd opoffer vir die gemeenskap se veiligheid. Ek doen ook ’n beroep op die gemeenskap om hierdie mense se taak vir hulle makliker te maak,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier.

Die tak moedig die gemeenskap aan om by projekte soos dié betrokke te raak. SMS “Bothaville” na 45344 (R1) om betrokke te raak.

Soortgelyke plasings