Boerebande in verre lande: Transvaalwijk in Leeuwarden vol Afrikanergeskiedenis
Die Anglo-Boereoorlog (1899-1902) was ’n oorlog tussen die magtige Britse ryk se groot professionele gevegsmag en ’n handjievol, oorwegend burgerlike Transvalers en Vrystaters, bygestaan deur vrywilligers van elders. Hierdie stryd het die verbeelding van mense in ander lande aangegryp met die gevolg dat ons in 2025 steeds spore van die oorlog en simpatie vir die Boere in lande buite die grense van Suid-Afrika aantref.
In hierdie reeks werp ons vanjaar die lig op enkele interessante verbintenisse en plekke, met die hoop dat dit nie net interessant vir die lesers sal wees nie, maar ook inspirasie gaan bied vir lesers om meer daaroor te wete te kom en dalk selfs van die plekke te besoek.
Een van die lande waar die inwoners die meeste bewondering vir die Boeremagte getoon het, was Nederland. Die Nederlanders se bewondering vir die dapper stryders het in die sogenaamde Transvaal- of Afrikanerbuurte gestalte gevind.
Hierdie buurte of wyke is ná afloop van die oorlog in verskeie Nederlandse stede ontwikkel om huisvesting aan die groeiende bevolking te bied. Strate en pleine is na Boereleiers, plekke in die Vrystaat en Transvaal, of beroemde veldslae vernoem. Sodanige buurte word in Amsterdam, Arnhem, Baarn, Den Haag, Dordrecht, Haarlem, Leeuwarden, Leiden, Vaassen, Vlaardingen, Zaandam, Nijmegen, Hengelo en Rotterdam aangetref. Meestal was dit buurte vir die werkersklas en die huise wat daar opgerig is, was eenvoudig en goedkoop. Meer onlangs is sommige strate weens die anti-apartheidstryd na anti-apartheidsfigure hernoem. In Amsterdam het Pretoriusplein byvoorbeeld Steve Bikoplein geword.
Leeuwarden se “Transvaalwijk” is na my mening een van die mooistes in Nederland. Dit word aan die een kant deur die stadsgrag begrens, wat beteken dat pragtige openbare ontspanningsareas met reusebome, grasperke en blomme daaromheen lê. Volgens die sensus van 2024 was daar 990 mense woonagtig. Die buurt is besig om te moderniseer en baie van die oorspronklike huise word tans gerestoureer.
Vir ’n besoeker met ’n liefde vir Afrikanergeskiedenis, is dit aangrypend om in Steijn- [sic], De Wet-, Cronjé-, Natal- en Transvaalstraat te loop en te beleef hoe ons verlede op hierdie wyse in die vreemde nog herdenk word, terwyl dit in Suid-Afrika so maklik verag of vergeet word.
’n Plein en muurskildery voeg wel ’n polities-korrekte element toe deur Nelson Mandela te vereer.
’n Mens wonder onwillekeurig of die inwoners van die oorsprong van hulle straatname bewus is?
’n Wandeling deur Leeuwarden se Transvaalwyk word sterk aanbeveel, veral in die lente as die gras op die oewer van die grag byna neongroen skyn en die lug swaar van die geur van rose is.
Dit kan ook ’n lekker avontuur wees om die ander buurte te gaan verken en te sien watter plekname daar behoue gebly het.