Bly kalm oor Korona-virus en tref nodige voorsorg
Suid-Afrikaners moet nou kalm en realisties bly te midde van die massahisterie en angs wat daar plek-plek wêreldwyd oor die Korona-virus (oftewel Covid19) heers.
’n Span deskundiges het vandag aan ’n aanlyngesprek van Maroela Media deelgeneem waartydens die algemene publiek se vrae beantwoord en bekommernisse oor die virus besweer is.
Meer as 110 000 mense is wêreldwyd sedert die uitbraak ’n paar maande gelede met die virus gediagnoseer. Dit het reeds na 110 lande versprei en sowat 4 000 pasiënte is daaraan dood. In Suid-Afrika is tot op hede 13 gevalle gediagnoseer.
Die span kundiges het bestaan uit dr. Anton Stoltz, hoof van infeksiesiektes by die Universiteit van Pretoria, dr. Anchen Laubscher, groepshoof van Netcare, Daniël du Plessis, beleidsontleder by Sakeliga en dr. Jerry Bezuidenhout, ’n psigiater by Vista-kliniek.
Stoltz het gesê dit is belangrik dat mense die uitbraak van die virus en die oordrag daarvan binne die hedendaagse konteks van oorbevolking en groter kontak tussen mense verstaan. Hy het verduidelik dat die Korona-virus eintlik ’n SARS2-virus is en dat Covid19 dui op die siekte.
Volgens hom moet daar onderskeid getref word tussen mense wat steeds gewone griep sal kry en tussen diegene wat die virus sal kry. Beskikbare inligting dui daarop dat 80% van mense gewone griep sal, 14% sal baie siek wees en gehospitaliseer moet word, terwyl 4% kritiek siek sal word en hoësorg-behandeling sal moet kry om asem te haal. Dit is onmoontlik om te bepaal hoeveel mense siek sal word, aangesien dit ook afhang van hoe mense higiëniese selfsorg toepas en wat hul vlakke van immuniteit is.
Stoltz het daarop gewys dat daar in die verlede ook baie ander virusse was. Die Korono-virus is vermoedelik van vlermuise na ’n tussenganger en daarna na die mens oorgedra. Dit is onbekend wat die tussenganger is.
Stoltz meen dit is belangrik dat mense nie histeries moet raak nie. Algemene simptome van die virus is koors, moegheid, hoes, diarree, braking en ’n seer keel. Dit kan egter ook simptome van ander siektetoestande wees.
Laubscher het Maroela-lesers gerusgestel en gesê die behandeling en sorg wat pasiënte by die 13 geïdentifiseerde staatshospitale in Suid-Afrika kan kry, is uitstekend én die instellings is uitstekend toegerus. “Die publiek is in goeie hande. Pasiënte wat wel privaat mediese versekering het, kan egter ook van privaathospitale, klinieke en dokters gebruik maak.”
Laubscher het gesê dit is baie belangrik dat pasiënte wat met die virus gediagnoseer word, in isolasie behandel word om verspreiding te beperk. Mense kan egter deur hul hande baie gereeld te was en persoonlike respiratoriese higiëne toe te pas, ook keer dat die virus versprei. Sy raai mense ook aan om hul reise te beperk indien moontlik en wanneer hulle siek voel om openbare plekke te vermy.
Sy beveel ook aan dat mense griepinspuitings kry wat sal voorkom dat hulle die algemene griep kry.
Laubscher waarsku ook teen histerie en wys daarop dat nie alle mense vir die virus getoets kan word nie aangesien toetsmateriaal plaaslik en in ander lande nie onbeperk is nie. Sy wys ook daarop dat nie almal maskers hoef te dra nie, omdat dit soos reeds gesien, tot tekorte kan lei en veroorsaak dat daar nie genoeg voorraad is vir mediese en gesondheidspersoneel wat dit veral moet dra nie.
Du Plessis het gewys op die impak wat die virus om markte internasionaal het. “Markte probeer wêreldwyd om die risiko’s van die virus te verreken. Die vervaardigingsektor en mynwese se aandele het baie geval. Suid-Afrika se grootste handelsvennote is China, Japan, die VSA, Duitsland en Indië en die virus kan tot gevolg hê dat industrieë in die land probleme kan hê omdat dit byvoorbeeld moeilik is om voorraad vir vervaardiging te kry.”
Volgens Du Plessis hang baie af van die sekerheid wat regerings gee oor hoe hulle die virus in hul lande hanteer. “Dit is baie moeilik om te sê hoe lank dit vir lande sal neem om weer in volle produksie te kom. Al wat ons nou kan doen, is om rustig te bly en ons bates te los waar dit is.”
Bezuidenhout het op sy beurt gesê sodra mense se angsvlakke oor iets (soos die virus) styg, begin hulle emosioneel in plaas van rasioneel dink. “Mense se vrese word boonop deur die media en die magdom beskikbare inligting opgejaag. Infeksies was nog altyd deel van ons lewens. Jy kan nie bepaal of jy dit gaan kry of nie. Jy kan wel doen wat binne jou beheer is om te keer dat jy nie siek word nie.”
Hooffoto van links na regs: Dr. Anton Stoltz (hoof van infeksiesiektes by die Universiteit van Pretoria), dr. Anchen Laubscher (groepshoof van Netcare), Elaine Krige (nuusredakteur van Maroela Media), Daniël du Plessis (beleidsontleder by Sakeliga) en dr. Jerry Bezuidenhout (psigiater by Vista-kliniek).