| |

Bloemhof-tak plaas Lekwa-Teemane Plaaslike Munisipaliteit op terme

AfriForum se Bloemhof-tak het die Lekwa-Teemane Plaaslike Munisipaliteit op 1 Augustus op terme geplaas nadat dit aan die lig gekom het dat rou riool direk in die Vaalrivier invloei.

Dit volg nadat dié tak verskeie klagtes van inwoners van Bloemhof ontvang het saam met video’s en foto’s wat wys hoe rou riool vanaf die dorp se rioolwerke in die Vaalrivier instroom. Dit blyk dat die rioolstorting reeds ’n geruime tyd aan die gang is en aangesien die onwettige storting van rou riool ’nstrafregtelike oortreding is, het dié tak besluit om druk op die munisipaliteit toe te pas om te verseker dat dit gestop word. 

AfriForum eis dat die munisipaliteit die rioolstorting en besoedeling onmiddellik moet staak en binne 24 uur ’n oplossing vir die probleem moet vind. Verder moet die munisipaliteit ’n aksieplan opstel en aan die Bloemhof-tak stuur. Die plan moet uiteensit hoe hulle dié probleem gaan oplos en hoe ’n soortgelyke kwessie in die toekoms voorkom sal word. Die tak eis ook dat ’n dringende vergadering tussen AfriForum se Bloemhof-tak, die munisipaliteit en ander rolspelers gereël moet word om die probleem te bespreek. Die Lekwa-Teemane Plaaslike Munisipaliteit het tot 4 Augustus om te reageer.

“Rioolstorting in riviere is ’n uiters groot probleem in Suid-Afrika. Ons varswaterbronne word aanhoudend besoedel en dit hou groot implikasies vir mens en dier in. AfriForum se Bloemhof-tak sal aanhou om kwessies soos dié te beveg deur die munisipaliteit onder druk te plaas om besoedeling deur rioolstorting te stop en sodoende die verantwoordelike persone aanspreeklik te hou. AfriForum se Bloemhof-tak sal die kwessie moniteer en indien nodig verdere regstappe neem om hierdie blatante besoedeling stop te sit,” sê Jp Nel, distrikskoördineerder vir Stellaland.

Raak vandag nog by die Bloemhof-tak betrokke en maak ’n verskil. Kontak Jp Nel by 081 217 1627.