Blade beplan beraad vir “versnelde” transformasie van universiteite
Versnelde transformasie van die hoër onderwyssektor wat nie net op die “ongelyke demografiese verteenwoordiging” sal fokus nie, is op die kaarte van die beraad wat dr. Blade Nzimande, minister van hoër onderwys en opleiding, vir Oktober beplan.
Nzimande het gister op ’n mediakonferensie in Pretoria die planne vir die beraad aangekondig wat daarop gemik is om ’n baie breë belangegroep te betrek om uiteindelik “konsensus oor talle transformasie-kwessies” te bereik.
“Ek het al die stemme nodig om ’n behoorlike geleentheid te gee om versnelde transformasie van hoër onderwys te bespreek.”
Die beraad sal nie net fokus op wat reeds in terme van transformasie bereik is nie, maar ook waar die land trek in terme van die nasionale ontwikkelingsplan en die witskrif op na-skoolse onderwys en opleiding.
Van die brandpunte wat deurtrap sal word, is die huidige onrus en plofbare situasies op kampusse waar geweld deurlopend voorkom.
Nzimande het gesê optrede van groepe soos OpenStellenbosch en Rhodesmustfall gee stukrag waarom die transformasie-beraad nodig is.
Ander kwessies wat bespreek sal word, is:
- Hoe moet ’n getransformeerde universiteit binne ’n getransformeerde Suid-Afrika lyk?
- Wat moet gebeur in terme van veeltaligheid en die gebruik van onderrigmediums aan instellings?
- Hoe ver is gevorder in terme van transformasie van die kurrikulum, toegang vir en sukses van studente, finansiële ondersteuning aan studente, die ontwikkeling van akademici, navorsing en leierskap?
Nzimande meen daar moet openlik gepraat word oor die “blokkasies” vir radikale transformasie en daar moet drastiese en konkrete stappe wees om die proses te versnel.
Met verwysing na groter verteenwoordiging van akademici in terme van ras en geslag, het Nzimande gesê die departement het ’n Staffing South African Universities Framework (SSAUF) ontwikkel om dit te bevorder.
Hy het voorts gesê die grootte en demografiese diversiteit van die sektor sal ook op die agenda wees aangesien die prentjie steeds skeefgetrek is. Daar is net minder as ’n miljoen studente in die sektor wat ’n nasionale deelname-koers van 20% verwys. Ingevolge die nasionale ontwikkelingsplan moet daar teen 2030 sowat 1,6 miljoen studente in die sektor wees. Die demografie moet radikaal transformeer weens die groot verskil in die deelname-koers van die verskillende rasse. Volgens statistieke van 2012 was die deelname-koers van swart studente 16%, bruines 14,2%, Indiërs 47,4% en wittes 54,7%.
Alana Bailey, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, het gesê die burgerregte-organisasie het ernstige kommer oor akademiese onafhanklikheid in Suid-Afrika. “Die beraad hou transformasie as vernaamste doelstelling van tersiêre onderrig voor – van toelating tot kurrikulum, sonder inagneming van beginsels soos akademiese onafhanklikheid, uitnemende onderrig, beloning van uitnemende prestasie, diens aan die gemeenskap deur die inhoud van leerplanne en nasionale en internasionale mededingendheid.”
Volgens Bailey kan transformasie nie die dryfveer van tersiêre onderrig wees nie. Die beste manier om transformasie op alle terreine moontlik te maak, is deur uitnemende onderrig op skoolvlak (ruk die 80% disfunksionele skole reg), help belowende studente met oorbruggingsprogramme na tersiêre onderrig en gee aan alle beste studente, ongeag ras en ideologie, die geleentheid om te studeer sodat hulle kan gradueer en werk skep.”
Bailey meen dit is van kritiese belang dat die reg tot moedertaalonderrig erken word en dat die model vir die subsidiëring vir veeltalige onderrig, hersien word.
Volgens Bailey is dit duidelik dat staatsondersteunde instellings alleen nie die mas kan opkom om alle verdienstelike studente te akkommodeer nie. “Die minister moet dit makliker maak om onafhanklike en privaat instellings op die been te bring sonder om die gehalte van universiteitsonderrig te kompromitteer.”