‘Bizos is ’n boelie en vroueslaner’
Tien jaar nadat Alexis Bizos, seun van die ontslape menseregte-advokaat George Bizos, sy destydse vrou, Monique van Oosterhout, ernstig aangerand het, gaan hy eindelik op 14 Februarie gevonnis word. Hy is in Julie 2024 skuldig bevind aan aanranding met die doel om ernstig te beseer.
Bizos het Van Oosterhout, wat intussen van hom geskei is, in 2015 tydens die voorval herhaaldelik met sy vuiste aan beide kante van haar ribbekas geslaan en teen ’n boekrak vasgestamp. Ses van Van Oosterhout se ribbe is tydens dié voorval gebreek.
Adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaatvervolgingseenheid, het vandeesweek in die landdroshof in Johannesburg geargumenteer dat tronkstraf die enigste gepaste straf vir Bizos sal wees wat nie net sy vrou geslaan het nie, maar haar ook ná die aanranding uitgetart het.
Van Oosterhout het buite die hof aan Forum Nuus gesê sy is bly dat die saak nou tot hier gevorder het. Volgens haar is ’n mens dikwels so gefokus op die regsproses dat die menslike aspek van die saak vergete raak.
“Hierdie was en is steeds ’n proses wat ’n negatiewe uitwerking op my lewe het – finansieel en sosiaal. Ek moes hierdie saak feitelik alleen aanpak en is baie bly dat ons tot hierdie punt gekom het,” het Van Oosterhout gesê.
Nel het Bizos in die hof as ’n “boelie met geld” en ’n “vroueslaner” beskryf wat die veiligheid wat ’n huis veronderstel is om aan die bewoners te bied, van Van Oosterhout ontneem het.
Bizos het gedurende die jare lange verhoor geensins berou getoon nie. Nel het beklemtoon dat dié optrede ’n swaar straf vereis. Hy het dit ook aan die hof gestel dat ’n boete of ’n opgeskorte vonnis uiters onvanpas sal wees en die belange van die beskuldigde bo dié van die slagoffer en die samelewing sal verhef.
Van Oosterhout het die privaatvervolgingseenheid in 2018 genader nadat die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) geweier het om Bizos te vervolg. Nadat die eenheid aangekondig het dat hulle aansoek gaan doen om ’n nolle prosequi-sertifikaat sodat hy privaat vervolg kan word, het die NVG sy oorspronklike besluit om nie te vervolg nie, omgekeer. Bizos is daarna genooi om vertoë te rig voordat vervolging ingestel sou word, maar by ontvangs van sy terugvoer het die NVG weer besluit om nie te vervolg nie. Dit het Van Oosterhout, met die privaatvervolgingseenheid se ondersteuning, genoop om aansoek te doen om ’n sertifikaat om Bizos privaat te vervolg.
Danksy Nel en sy span se baanbrekerswerk kan geregtigheid eindelik vir Van Oosterhout geskied. Die hof het verlede jaar ook beslis dat die staat die eenheid se regskoste moet betaal.
“Dit beteken vir my baie dat AfriForum en Kallie Kriel in my geglo het en dat adv. Nel en sy span my ondersteun het. Dit het my gehelp om op ’n manier weer ‘mens’ te word, maar dit was ’n vreeslike moeilike tyd vir my en dit is eintlik steeds,” het Van Oosterhout gesê.