Beurtkrag se donkerte nou verdryf ná skenking aan Laerskool Kathu
Die donkerte van beurtkrag en kragonderbrekings wat al te dikwels oor Laerskool Kathu se terrein toesak, sal voortaan heelwat minder wees. Dit is te danke aan ’n welkome skenking van twee 90 watt-sonpaneelligte wat AfriForum se Kathu-tak verlede week aan dié skool geskenk het.
Volgens Johan Snyman, voorsitter van die Kathu-tak, sal hierdie skenking ’n belangrike bydrae tot veiligheid en misdaadvoorkoming op die skoolterrein maak. Dit sal uiteindelik ook ’n reusevoordeel vir die leerders se veiligheid en welstand inhou.
“Die veiligheid van kinders en in hierdie geval van skoolleerders in die besonder, is vir AfriForum van kardinale belang. Hoewel beurtkrag ’n bittere realiteit geword het, kan ons as gemeenskap hande vat en die uitwerking daarvan op kwesbare lede van die gemeenskap help verlig. Dit is juis hier waar AfriForum ’n rol het om te speel om te help bou aan ’n gesonde en veilige gemeenskap,” benadruk Snyman.
Vir meer inligting oor dié en ander projekte wat die Kathu-tak aanpak of om lid te word, kontak Johan Snyman (063 132 1293) of Werner Strauss (081 217 1752) by die Kathu-takkantoor.