|

Bethlehem-tak maak Jordaanrivier skoon ten spyte van struikelblokke

Die AfriForum-tak in Bethlehem is tans besig met ’n grootskaalse aksie om die Jordaanrivier, wat onderdeur die N5 vloei, skoon te kry. Dié brug is ’n bymekaarkomplek vir sluipslapers, dwelmverslaafdes en ander kwaaddoeners en as gevolg daarvan is daar gereeld vullis in en om die rivier.

Volgens Christa Ikking, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Hoogland, is dit uiters gevaarlik om hierdie area skoon te maak aangesien die mense wat onder die brug slaap aggressief raak met die mense wat daar wil skoonmaak. Die afgelope naweek moes die plaaslike AfriForum-buurtwag selfs intree toe daar dreigemente teenoor AfriForum se kontrakteurs gemaak is.

Hoewel AfriForum-takke reg oor die land al vir jare die werk verrig wat eintlik munisipaliteite se verantwoordelikheid is bly dit ,volgens Ikking, sleg dat munisipaliteite nie eens bereid is om take met ’n minimale koste te verrig nie. “Dit is onaanvaarbaar dat die rivier in só toestand is. Die kostes verbonde aan hierdie soort skoonmaakaksies is minimaal en die munisipaliteit het daarom geen geldige rede waarom hulle nié die rivier kan skoonhou nie.”

Die AfriForum-buurtwag sal ook voortaan saam met die plaaslike Suid-Afrikaanse Polisiediens ’n oog oor die brug hou om te verseker dat kwaaddoeners nie ’n geleentheid het om misdrywe te pleeg nie.

“Ons wil die gemeenskap verseker dat ons as tak sal voortgaan om die netheid van die dorp te bevorder en ons sal nie moed verloor wanneer ons voor struikelblokke te staan kom nie,” sê Juandre Gelderblom, voorsitter van AfriForum se Bethlehem-tak.

Besoek www.wordlid.co.za om by jou naaste tak aan te sluit en sodoende ’n daadwerklike verskil in jou gemeenskap te maak.

Soortgelyke plasings