|

Bethlehem-buurtwag: Vermeende kabeldief op heterdaad betrap

Die AfriForum-buurtwag in Bethlehem het nie geskroom om ondersoek in te stel ná n kragonderbreking die Môrelig-woonbuurt moedeloos gelaat het nie.

Twee onversaagde buurtwaglede het die vermeende kabeldief by die Môrelig-kragstasie aangetref waar hy in die dak weggekruip het. Die verdagte is in die kragstasie toegesluit terwyl hulp ontbied is. Die buurtwaglede het ook messe en kapmesse op die toneel gevind wat gebruik is om die kabels te stroop.

Die Silent Night-sekuriteitsmaatskappy wat ontbied is kon ná ’n kortstondige konfrontasie met die verdagte daarin slaag om hom te arresteer.

Te danke aan blitsige en doeltreffende samewerking tussen die AfriForum-buurtwag en plaaslike sekuriteitsdienste kon hierdie sukses behaal word.

Volgens Christa Ikking, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Hoogland, wys hierdie eens te meer die krag van samewerkende inisiatiewe om misdaad te bekamp en die gemeenskap te beskerm.

“Ons bedank ons onverskrokke buurtwaglede wat hard werk en braaf genoeg is om na tonele te gaan om ondersoek in te stel na misdadige aktiwiteite.”

Soortgelyke plasings