Bethal-tak maak Davelweg skoon
Die AfriForum-tak in Bethal het gedurende Augustus drie bakkievragte vol vullis en gras uit Davelweg verwyder.
’n Stuk van Davelweg (sowat 150 m) is ’n gewilde staanplek vir vragmotors, al is dit onwettig, en ander voertuie stop ook gereeld hier waartydens vullis sommer by die vensters uitgegooi word. Hierdie stuk pad was dus ’n steen des aanstoots vir gemeenskapslede wat omgee oor hoe die dorp lyk. Een persoon wat ’n tuindiens-onderneming bedryf is selfs op heterdaad betrap toe hy tuinvullis hier afgelaai het.
Hierdie aksie is in samewerking met boere vanuit die Kippen-omgewing aangepak. Baie van hierdie boere het reeds begin om die grondpaaie by hul plase skoon en netjies te hou en dít maak reeds ’n reuseverskil.
Die boere het selfs hul masjinerie ingespan om ’n vullisgat van ’n nabygeleë nedersetting oop te grou sodat dit netjies kan wees.
Nóg ’n deel van Davelweg sal binnekort ook aangepak word wanneer die AfriForum-tak gras gaan sny en weer vullis sal optel en verwyder.
“Dit is swak dat mense te lui is om hul vullis en tuinafval by die vullisterrein af te laai, ons kan nie meer hierdie lafhartige optrede duld nie. Ons sal persone rapporteer wat hulle vullis op aflaai op onwettige plekke,” sê Hennie Bekker, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Hoëveld.
“Ek wil ook ’n beroep doen op die gemeenskap om betrokke te raak by hul plaaslike tak en sodoende ’n daadwerklike verskil te maak.”
Besoek www.wordlid.co.za en kies Bethal as jou tak van keuse.