Bethal spog met minder slaggate op dié paaie
Verskeie paaie in Bethal is nou meer toeganklik vir motoriste as voorheen nadat die plaaslike AfriForum-tak slaggate met doleriet in Blesbok-, Gemsbok-, Impala-, Eland- en Buffelstraat opgevul het. Van die paaie, waaronder Gemsbok- en Blesbok-straat, is al deurgery. Blesbokstraat is ook een van die hoofroetes in Bethal wat lei na verskeie kerke en die Laerskool Marietjie van Niekerk. Turnkey Civil Group het ’n vragmotor gratis beskikbaar gestel vir die slaggatprojek, terwyl NJP Transport die gruis geborg het.
“Die strate in Bethal is bykans onrybaar en hierdie korttermynoplossing maak dit vir inwoners makliker om in die dorp rond te beweeg. Een van die dae sal ons die jaarlikse teerprojek weer afskop en ’n langtermynoplossing vir mense bied,” sê Ingrid Human, voorsitter van AfriForum se Bethal-tak.
Verder het die Bethal-tak in samewerking met nabygeleë boere ook weereens die gemeenskap van water voorsien nadat Rand Water en die Govan Mbeki Plaaslike Munisipaliteit op 19 Februarie die krane alweer droog gelaat het. Daar is op 20 Februarie reeds drie tenkwaens water by die twee noodwaterpunte by die AC Kerk en die Gereformeerde Kerk afgelewer.
“Inwoners word belas met die swak dienslewering. Die Govan Mbeki-munisipaliteit en Rand Water is nie meer in staat om volhoubaar water te verskaf nie en dit is onaanvaarbaar. As die boere nie die dorp help nie sal inwoners omtrent nooit water hê nie,” sê Hennie Bekker, distrikskoördineerder vir AfriForum in die Hoëveld.
Verder is daar ook in Februarie 60 kg tamaties geoes en aan die Bethal-sopkombuis en die Silwerjare-tehuis geskenk. Die tamaties kom van die Bethal-tak se groentetuinprojek. Dié projek lewer amper elke maand groente aan die gemeenskapsorganisasies in Bethal.
“Hierdie projek bring verligting aan verskeie instansies in die omgewing en ons poog om die projek verder uit te brei,” sê Marilé Nieuwoudt, koördineerder van die groentetuinprojek.