Beter verhoudings kern in stryd teen plaasmoorde – SAMRK
Deur: Mariska Batt
Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD), die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) en die regering moet méér doen in die stryd teen plaasaanvalle en –moorde, en rasseverhoudings moet verbeter word om sosiale kohesie te bevorder.
Dít is van die kernaanbevelings wat die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (SAMRK) Donderdag, 20 Augustus by ʼn konferensie in Johannesburg in ’n volledige verslag oor misdaad in landelike gebiede bekend gemaak het.
Dié verslag is ʼn uitvloeisel van die openbare verhore wat in 2014 deur die kommissie gehou is oor plaasaanvalle –en moorde en bevat onder meer bevindings en aanbevelings wat deur die regering en ander rolspelers uitgevoer moet word.
Danny Titus, voorsitter van die ondersoekpaneel by die SAMRK, sê die uitvoering van die verslag se aanbevelings is vir hulle van groot belang, juis omdat die kernbevinding is dat plaasaanvalle en –moorde ʼn baie “komplekse probleem” is.
Hoewel daar tydens die konferensie klem op die bevordering van rasseverhoudings geplaas is, sê Titus dat rassisme as ʼn motief vir plaasaanvalle nie deur hulle bevind kon word nie.
“Ons is wel bekommerd oor die taalgebruik, opmerkings en brutaliteit teenoor slagoffers tydens dié aanvalle. Boere is baie kwesbaar en word as sagte teikens beskou.”
Die belangrikheid van die bevordering van verhoudings word verder uitgelig deur dr. Leon Wessels, voormalige voorsitter van die SAMRK, wat sê dat boere nie veilig voel as die polisie bloot mooipraatjies maak nie, maar dat vertroue gekweek moet word deur die bou van goeie verhoudings tussen boere, die polisie en die regering.
Ernst Roets, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, sê die burgerregte-organisasie verwelkom die verslag en beskou dit as ’n stap in die regte rigting.
“Hoewel ons baie positief oor die verslag voel, is daar ʼn paar aspekte waaroor ons bekommerd is. Die grootste bekommernis is dat die kommissie nie die statutêre mag het om die regering te dwing om die aanbevelings toe te pas nie. Die kwessie rondom ras en rasseverhoudings is ook baie oorsigtelik behandel. Ons is veral bekommerd dat dit die SAMRK se derde verslag is en dat talle aanbevelings voorheen ook gemaak is, maar steeds nie deur die regering uitgevoer is nie,” sê Roets.
Dr. Pieter Groenewald van die Vryheidsfront Plus beaam Roets se stelling deur te sê dat hulle ook bekommerd is oor die toepassing van die aanbevelings weens die tekort aan politieke wil om die probleem te takel.
Mike Mlengana, president van Afasa (die African Farmers’ Association of South Africa), sê dat hoewel dié organisasie ook waardering vir die verslag het, meen hulle dat die ekonomiese oorsake nie voldoende uitgelig en ondersoek is nie.
“Ekonomies staan die boer teenoor die plaaswerker en die regering. Die regering besluit dat lone verhoog. Nou verwag die plaaswerker dat die boer hom meer moet betaal, maar die boer se inkomste het nie verhoog nie, wat beteken dat hy nie die plaaswerkers meer kan betaal nie. Die regering veroorsaak dus die ontstaan van wantroue en spanning met die gevolg dat die plaasboer en plaaswerker teenoor mekaar staan.”
Hy beklemtoon ook dat die regering se verhouding met boere drasties moet verbeter en sê dat die regering die boer se vennoot moet word.