|

Beste matrikulant

Die matriekeksamen wat vandag begin, laat my gedagtes na November 2004 terugdwaal. Ek was in matriek – 18, volwasse en amper klaar met skool. Hoewel ek nie die presiese datum kan onthou nie, onthou ek die dag soos gister toe ek my wiskunde-eindeksamenvraestel moes skryf.

Die aarde was lekker nat van die vorige aand se somerreën en ondanks die senuwees wat in my binneste gewoel het, was ek positief oor die vraestel wat vir my voorgelê het.

Kyk, wiskunde was nog nooit een van my talente nie.  My arme ouers het duisende rande aan ekstra wiskundeklasse bestee; my wiskundetannie, Juleen, het die allermooiste kleurpenne gebruik om meetkunde aan my te verduidelik. Ek kon dit eenvoudig net nie baasraak nie.

Tog het ek op dié dag selfversekerd gevoel, vasberade om my matriekjaar op ’n goeie noot af te sluit. Ek het boonop so goed voorberei as wat ek kon.

Omdat ek reeds 18 was en ’n leerlinglisensie gehad het, was ek fluks aan die oefen om my rybewys nog voor die einde van daardie jaar te kry.  My pa het boonop vir my ’n pragtige silwer Toyota Tazz gekoop. Maar in dié Tazz mag ek net gery het as hy saamgery het.

Só spreek ons toe af dat ons die oggend van die wiskundevraestel met die Tazz gaan ry en ék sal bestuur.  Baie opgewonde het ek my vriendin Karin Roos, wat onder in my straat gewoon het, laat weet om ook saam te ry.

Ons het beoog om lank voor 09:00 daar te wees sodat ons koel en kalm ons sitplekke kan inneem en nie gejaagd te wees nie. My pa het sy eie gastehuis sowat ’n kilometer van die skool af besit. En soos die noodlot dit wou hê, was daar daardie oggend ’n gas wat net nie sovêr kon kom om uit te teken nie, wat beteken dat ons nie kon ry nie …  En daar vind hy my: die senuweemonster wat ek al heeloggend ontduik het.

Nodeloos om te sê, het ek so net voor 09:00 met my Tazz skool toe gejaag. My Pa het soos ’n neet aan ’n haar geklou, en ek en Karin het ’n benoude sweetjie uitgepêrel. Ons was net betyds. Uitasem en senuweeagtig, maar betyds.

Ek het die vraestel verwoed afgelê en stellings bewys soos net ’n regterbrein kon. Intussen het ek gehoop dat die nasiener my tog net genadig sou wees.

Dit was wild, maar ons is deur.

Vandag begin die eindeksamen vir die matrieks van 2018.

Jare later gaan julle ook stories hê om te vertel en sal julle hopelik ook kan terugkyk en daaroor lag.

Matrieks, ongeag jul omstandighede is my wens dat julle rustigheid oor hierdie eksamen sal ervaar. Leer hard, wees positief, konsentreer en druk deur. Weet dat hierdie beslis nie die moeilikste toets van jul lewe gaan wees nie, maar wel een van die belangrikstes.

STERKTE!

Groetnis

Carien

* Carien Bloem is die projekkoördineerder vir onderwys by AfriForum

Soortgelyke plasings