Besmette water vloei weer deur Parys ondanks AfriForum-hofsaak oor dié krisis
Die AfriForum-tak in Parys het opnuut die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit daarop gewys dat die munisipale water in die gebied nie geskik is vir menslike gebruik nie. Die burgerregteorganisasie het verlede week toetse laat doen nadat talle klagtes ontvang is oor die swak watergehalte. Die toetse, wat deur ’n geakkrediteerde laboratorium gedoen is, toon dat die water fekale kolivorme bakterieë bevat wat siektes soos ingewandskoors (oftewel buiktifus) kan veroorsaak. Die water voldoen boonop nie aan die nasionale standaard vir drinkwater nie, dus moet dit nie deur mense gebruik word nie.
AfriForum wag nóg op uitspraak in ’n hofaansoek oor dié krisis. Die burgerregteorganisasie het in Desember verlede jaar ’n dringende aansoek by die Bloemfonteinse Hooggeregshof ingedien waarin intervensie ingevolge artikel 139 van die Grondwet versoek is. Hiervolgens kan ’n provinsiale uitvoerende gesag intree wanneer ’n munisipaliteit, soos die Ngwathe-munisipaliteit, nie sy pligte nakom nie en die munisipaliteit onder administrasie plaas.
Intussen weier die Ngwathe-munisipaliteit enigiemand toegang tot die dorp se waterwerke, ondanks ’n interdik wat vroeër deur AfriForum bekom is, wat bepaal dat toegang tot die waterwerke nie geweier mag word nie. Die munisipaliteit was veronderstel om verlede jaar die eerste fase opgraderings aan die waterwerke te voltooi, maar AfriForum word vir maande reeds van die werke af gehou, wat dit onmoontlik maak om te bevestig of die opgraderings wel aangebring is.
“Indien die munisipaliteit wel daarin geslaag het om die opgraderings te doen, maak dit duidelik geen noemenswaardige verskil nie. Hierdie vlak van onbevoegdheid is uiters kommerwekkend,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier.
Die watersituasie word boonop vererger deur die gereelde kragonderbrekings op die dorp. Dae gaan soms verby voordat inwoners se kragtoevoer herstel word. Uiteraard kan daar in hierdie tyd nie eens water gepomp word om toilette mee te spoel nie. Sedert 1 Januarie was daar reeds verskeie kragonderbrekings op die dorp.
Parys staar keer op keer dieselfde probleme in die gesig, sonder dat daar werkbare oplossings geïmplementeer word, daarom het AfriForum versoek dat die munisipaliteit gedetailleerde stappe uiteensit oor hoe beide dié krisis gepak gaan word. Indien die munisipaliteit versuim om binne 48 uur terugvoer hierop te lewer, behou AfriForum die reg om verdere stappe teen die munisipaliteit te doen.
“Telkemale het die Ngwathe-munisipaliteit AfriForum en ander gemeenskapsorganisasies soos Save Ngwathe se hulp van die hand gewys – nee, eintlik dié hand weggeklap. Intussen is dit die gemeenskap wat daaronder ly,” sê Pretorius.
Volgens Schalk Burger, voorsitter van die AfriForum-tak in Parys, beklemtoon hierdie situasie die feit dat die munisipaliteit geensins die inwoners se beste belange op die hart dra nie. “Deel van die probleem is dat onbevoegdheid in die munisipaliteit seëvier, bewerings van korrupsie en sabotasie die ronde doen en dat baie amptenare nie eens in Parys woon nie en dus uit voeling is met dit wat inwoners daagliks deurmaak,” sluit Burger af.
Corne Cronje, AfriForum se bestuurder van Gemeenskapsake, is bekommerd dat die munisipaliteit se onvermoë om basiese infrastruktuur te bestuur ’n negatiewe uitwerking op ondernemings, en by uitbreiding die gemeenskap, het. “Dis duidelik dat daar daadwerklike ingryping moet plaasvind om diens te verbeter. Vinnige optrede om sabotasie en diefstal hok te slaan is nodig en moet in samewerking met die polisie, buurtwagte en sekuriteitsmaatskappye gedoen word.”