|

Benoni stap weg met AfriForum se gesogte Tak van die Jaar-toekenning

Honderde AfriForum-tak- en -buurtwaglede het die afgelope naweek AfriForum se driejaarlikse kongres by ATKV-Klein-Kariba buite Bela-Bela bygewoon. Hiertydens is verskeie takke en buurtwagte vereer en beloon vir hul goeie werk en die verskil wat hulle in hul onderskeie gemeenskappe maak.

AfriForum se taklede voer hul takprojekte en buurtwagaktiwiteite vrywillig uit – dít terwyl heelwat lede ook voltyds werk. Hulle help om die organisasie se ons sal self-visie uit te bou daar waar munisipaliteite se dienslewering te kort skiet en om gemeenskappe te bemagtig om meer staatsonafhanklik te word.

Die takke wat as wenners aangewys is, het verskeie selfdoen- en volhoubare projekte suksesvol aangepak, terwyl die buurtwagte met gereelde patrollies en ander veiligheidsoperasies gesorg het dat hulle gemeenskap veiliger is.

Takke en buurtwagte het in agt verskillende kategorieë meegeding om nie net as kategoriewenners weg te stap nie, maar om ook die prysgeld tot die uitbou van tak- of buurtwagaktiwiteite op te raap. Een van dié gesogte toekennings is die AfriForum Tak van die Jaar-toekenning.  

AfriForum se Benoni-tak is as AfriForum se Tak van die Jaar aangewys, terwyl die Benoni-buurtwag ook as die noordstreek se Buurtwag van die Jaar gekroon is. Hierdie tak het verskeie suksesvolle projekte aangepak. Hulle pak onder meer gemiddeld drie keer per maand skoonmaakprojekte aan, het vanjaar reeds meer as 30 ton teer gebruik om slaggate te herstel en het 20 vullisdromme neergesit wat weekliks leeggemaak word.

Die Benoni-buurtwag het op hul beurt meer as 100 aktiewe lede wat reeds 63 104 km se patrollies afgelê het. Hierdie buurtwag spog met twee motorfietse wat in die landelike gebiede gebruik word. Hul hommeltuig word ook gereeld in samewerking met die polisie en Valke ingespan tydens misdaadsituasies.

“Hierdie prestasie beteken werklik ongelooflik baie vir ons buurtwagstrukture, bestuur en die hele gemeenskap. Dit is die resultaat van harde werk en toewyding, en om hierdie erkenning te ontvang, is ’n ware voorreg vir ons almal. Dit maak ons nie net trots nie, maar gee ons ook hernieude dryfkrag en motivering om voort te bou op wat ons reeds bereik het. Ons weet nou dat ons pogings om ons gemeenskap te beskerm en te dien werklik ’n merkwaardige verskil maak, nie net plaaslik nie, maar in die groter konteks van ons land. Die positiewe reaksie van die publiek op hierdie nuus was oorweldigend, en die terugvoer wat ons ontvang het, is vol entoesiasme en ondersteuning. Dit inspireer ons om nog harder te werk en groter hoogtes te bereik in ons missie om ’n veiliger, sterker gemeenskap te bou,” sê Jacques Laubscher, leier van AfriForum se Benoni-buurtwag.

Die Plattelandse Tak van die Jaar is AfriForum se Naboomspruit-tak. Dié tak het eiehandig die hele Mookgophong se padmerke en voetoorgange oorgeverf. Hulle het ook onder meer twee noodwaterpunte in die dorp opgerig en herstel maandeliks slaggate.

Nog twee takke is beloon vir onderskeidelik hul suksesvolle volhoubare projek (Centurion-tak) en vir die Bouprojek van die Jaar (Lichtenburg-tak).

Die Centurion-tak is herwinners van formaat en het tans 33 staalherwinningshokke en ’n voltydse span met vyf toegewyde werkers wat daagliks herwinning doen. Hierdie tak het tot op hede 98 449 kg se herwinde items gesorteer en verkoop.

AfriForum se Lichtenburg-tak het die toekenning vir die Bouprojek van die Jaar ontvang vir die reusebydrae wat hulle in dié dorp maak met hul teerprojek. Hulle het die afgelope drie jaar 445,8 ton teer gebruik om slaggate en paaie te herstel. Tydens AfriForum se pas afgelope slaggatprojek, #VulDieGat, het hierdie tak 29 ton teer gebruik om paaie in Lichtenburg te verbeter. Intussen maak dié plaaslike gemeenskap en sakeondernemings ook ’n belangrike bydrae tot die sukses van hierdie takprojek deur gereelde skenkings vir die opheffing van die dorp te maak.

AfriForum-takke in die noorde, suide en sentrale dele van die land het ook vanjaar meegeding om die Tak van die Jaar-toekenning in die onderskeie streke. Vanjaar se streekwenners is: Centurion (noordstreek), Bethlehem (sentraalstreek) en George (suidstreek).

Die volgende buurtwagte het toekennings ontvang:
Noordstreek:
Opkomende Buurtwag van die Jaar: Beska (Lephalale-omgewing)
Naasbeste Buurtwag van die Jaar: Delmas
Buurtwag van die Jaar: Benoni

Sentraalstreek
Opkomende Buurtwag van die Jaar: Sasolburg
Naasbeste Buurtwag van die Jaar: Wilgehof (Bloemfontein)
Buurtwag van die Jaar: Bethlehem

Suidstreek
Opkomende Buurtwag van die Jaar: Winterberg (Uitenhage)
Naasbeste Buurtwag van die Jaar: Walker Drive (Gqeberha)
Buurtwag van die Jaar: Malmesbury

Soortgelyke plasings