Benoni-buurtwag span ANPR-kameras in om twee gesteelde voertuie op te spoor
AfriForum se Benoni-buurtwag het ’n gesteelde motorfiets en ’n Mercedes-Benz met behulp van hul ANPR-kameranetwerk en ander plaaslike rolspelers teruggevind.
Die AfriForum-buurtwag het die motorfiets in samewerking met Dot Towing, Trio Risk Management, Gautengse verkeerswagte en die plaaslike Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) teruggevind. Die verskeie rolspelers het die motorfiets agternagesit en gevolg tot by die Benoni Lakeside-winkelsentrum waar twee mans in hegtenis geneem is.
Die tweede voertuig, ’n Mercedes-Benz, is op die kameranetwerk in Lakefield opgetel waar die buurtwag die voertuig gevind het in samewerking met plaaslike rolspelers, GPF, Trio Risk Management, BadBoys Sekuriteit en die SAPD. Die bestuurder van die voertuig is gearresteer en daar is ook vasgestel dat die SAPD na hom soek in verband met ’n saak van diefstal en ontvoering.
Volgens Jurie Ferreira, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Oos-Rand, is hulle trots op die samewerkingsverhouding wat tussen die AfriForum-buurtwag en ander rolspelers in Benoni gevestig is. “Hierdie suksesvolle operasies wys die krag van gemeenskapsamewerking en die nuttige inspanning van gevorderde tegnologie in die stryd teen misdaad. AfriForum se Benoni-kameranetwerk het oor die afgelope drie jaar gehelp dat meer as 150 gesteelde voertuie en voertuie wat in misdadige aktiwiteite gebruik is, teruggevind kon word.”
“Deur selfstandige optrede kan ons ’n positiewe verskil in ons gemeenskappe maak. Ons werk nie net vir ’n onmiddellike oplossing nie, maar om ’n langtermyn impak te hê. Ons moedig graag lede van die gemeenskap aan om betrokke te raak by hulle plaaslike veiligheidsnetwerke en sodoende saam te werk aan ’n veiliger toekoms,” sluit Ferreira af.
Vir meer inligting oor hoe om by die Benoni-tak se projekte betrokke te raak, besoek www.wordlid.co.za of kontak die tak direk op 084 976 1234