Belfast-tak behaal hofsege teen Emakhazeni-munisipaliteit oor wanbestuur van afvalwaternetwerk
AfriForum se Belfast-tak het gister ’n deurslaggewende hofsege behaal wat die Emakhazeni Plaaslike Munisipaliteit dwing om dringend op te tree om sy vervalle afvalwaternetwerk te herstel en behoorlik in stand te hou. Die hofbevel is uitgereik nadat inwoners van Belfast vir jare gesondheids- en omgewingsgevare moes verduur weens onbeheerde besoedeling wat direk voortspruit uit die munisipaliteit se nalatigheid.
Die hof het gelas dat die munisipaliteit teen 13 Desember 2024 ’n gedetailleerde aksieplan aan AfriForum se regsverteenwoordigers moet oorhandig. Hierdie plan moet spesifieke stappe uiteensit om al die pompstasies en afvalwateraanlegte in die munisipaliteit – insluitend die Belfast rioolwerke – op te knap, te beveilig en in stand te hou. Die munisipaliteit word ook verplig om realistiese tydraamwerke in die plan in te sluit en alle werk binne vyf jaar na hierdie hofbevel af te handel.
Aangesien die gemeenskap al vir ’n lang tyd blootgestel is aan onaanvaarbare rioolbesoedeling en ernstige gesondheidsrisiko’s, het die hof ook vereis dat die munisipaliteit onmiddellik noodmaatreëls moet implementeer om enige verdere besoedeling te voorkom, terwyl die opknappingswerk aan die gang is. Hierdie stappe is verpligtend en moet voorkom dat riool plaaslike riviere en grond besoedel – iets wat die gesondheid en welsyn van inwoners direk in gevaar stel. Die hof het ook beslis dat die munisipaliteit alle koste verbonde aan die aansoek moet dra, insluitend AfriForum se regskostes.
Die hof het die munisipaliteit verder opdrag gegee om elke twee maande vir vyf jaar lank verslag te doen aan AfriForum oor die vordering van hierdie aksieplan. Hierdie terugvoer is noodsaaklik om deurlopend aanspreeklikheid te verseker. AfriForum se Belfast-tak sal intussen toesien dat die munisipaliteit sy verpligtinge nakom. Die burgerregteorganisasie sal nie skroom om verdere regstappe te doen indien die munisipaliteit versuim om aan die hofbevel gehoor te gee.
“Hierdie hofbevel is ’n bewys dat AfriForum nie verder die uiterse swak en onbetroubare dienslewering van die Emakhazeni-munisiplaiteit sal duld nie,” sê Arlo van Heerden, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Laeveld. “AfriForum kan nie langer toelaat dat inwoners deur die munisipaliteit se wanbestuur in gevaar gestel word nie. Hierdie uitspraak bewys die krag van gemeenskapsdruk en bevestig AfriForum se toewyding om die belange van ons lede en die breër gemeenskap op die hart te dra.”
AfriForum doen ’n beroep op die Emakhazeni-munisipaliteit om hierdie hofbevel te gebruik as ’n geleentheid om sy verpligtinge teenoor die gemeenskap met erns en toewyding na te kom. AfriForum sal voortgaan om toe te sien dat elke aspek van hierdie hofbevel noukeurig uitgevoer word.
Vir meer inligting oor hierdie saak of om by die AfriForum se Belfast-tak aan te sluit, kontak Van Heerden by 066 486 7609 of besoek AfriForum se webwerf by www.afriforum.co.za.