Belastingbetalers kry aanhoudend bloedneus
Die nuutgekroonde UFC-kampioen, Dricus du Plessis, het die stelling gemaak dat die Suid-Afrikaanse regering die slegste in die wêreld is. Suid-Afrikaanse belastingbetalers bevind hulself dikwels met ’n bloedneus as gevolg van keuses wat die regering maak en talle voel, net soos Dricus, dat die regering die swakste ter wêreld is. Hierdie keuses wat telkens betrekking het op die twyfelagtige toekenning van tenders en toelaes, het ’n direkte impak op die belasting wat burgers betaal.
Die regering se tendertoekenningsproses word dikwels geteister deur korrupte praktyke, nepotisme en ondoeltreffendheid. Wanneer hierdie tenders aan onbevoegde, gediskwalifiseerde bieërs toegeken word, ly belastingbetalers in verskeie opsigte. Projekte wat misluk, die uitdeel van peperduur tenders en uiteindelike reuseverliese is net enkele maniere waarop getroue belastingbetalers keer na keer die spit moet afbyt. Hierdie keuses stel belastingbetalers bloot aan ’n bykomende las, aangesien hulle gedwing word om vir die wanbestuur van hul belastinggeld op te dok.
’n Onthullende verslag van die Organisasie Teen Belastingmisbruik (OUTA) oor skynbare suspisieuse tendertoekennings en onderhandelinge onder regeringstafels deur is onlangs bekendgestel. Dit het die publiek se aandag getrek soos een van Dricus “Stillknocks” du Plessis se bokswedstryde. In die OUTA-verslag word beweer dat sekere politici in Suid-Afrika hul hande diep in die regeringskoffers, oftewel die sakke van belastingbetalers, gesteek het. OUTA het vroeg in Januarie vanjaar beweer dat sekere van die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente (NSFAS) se diensverskaffers by korrupsie betrek is. Hierdie onthullings het ’n storm van kontroversie uitgelok. Dit het die kollig op wydverspreide wanbestuur van openbare instansies gerig waarop dié instansies deur die hande van kaders misbruik word. Die wyse waarop staatstenders toegeken word, blyk ’n broeines van korrupsie te wees, waar sekere politici ’n ongesonde belangstelling toon in die toekenningsproses. ’n Deeglike ondersoek deur OUTA het ’n beproefde resep van onbillike bevoordeling, baantjies vir boeties en onreëlmatige spandering van staatsgeld onthul. Hierdie praktyke ondermyn nie net die beginsels van verantwoordelikheid en mededinging nie, maar laat ook belastingbetalers met ’n wrang smaak in die mond.
Wanneer regeringsfondse as toelaes uitgedeel word sonder behoorlike sorg en toesig, kan openbare hulpmiddele uitgeput word. Dit kan belastingbetalers ontneem van die voordele van openbare programme wat bedoel is om gemeenskapsontwikkeling en dienslewering te bevorder. Belastingbetalers verdien ’n regering wat verantwoordelik en doeltreffend met hul geld omgaan, maar die onreëlmatighede in die toekenning van toelaes ondermyn telkens hierdie beginsel.
Wat hierdie saak vererger, is die gebrek aan doeltreffende toesighouding en beheermaatreëls om hierdie wanpraktyke teen te werk. Belastingbetalers het ’n reg op ’n regering wat nie net verantwoordelik optree nie, maar ook streng optree teen die misbruik van tenders en maatskaplike toelaes. In ’n tyd waar belastingbetalers toenemende druk ervaar as gevolg van ’n spreekwoordelike vuisgeveg met ekonomiese uitdagings, is dit onaanvaarbaar dat die regering hul eie belange bo dié van die samelewing plaas. ’n Regering wat verantwoordelik, deursigtig en diensgerig optree is noodsaaklik. Belastingbetalers verdien nie net ’n beter en etiese regering nie, maar ook ’n stelsel wat hul finansiële bydraes op ’n verantwoordelike wyse bestuur. Volhoubare ontwikkeling van gemeenskappe, eerder as toelaes, is die sleutel tot die uitwissing van magsmisbruik in Suid-Afrika.