|

Bela-wet: Skikking beskerm skole en beheerliggame

Die Solidariteit Beweging, waarvan AfriForum en Solidariteit deel is, het gister aangekondig dat die omstrede artikels in die Wysigingswet op Wette op Basiese Onderwys 32 van 2024 (Bela-wet) nie meer op 13 Desember geïmplementeer gaan word nie. Dit volg nadat ’n skikking met die regering by die Nasionale Ekonomiese, Ontwikkelings- en Arbeidsraad (Nedlac) bereik is.

Volgens dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, is hierdie skikking tussen die Beweging, die presidensie en die minister van Basiese Onderwys, Siviwe Gwarube, bereik. “Die skikking bepaal ook dat die minister aanbevelings aan pres. Cyril Ramaphosa sal maak rondom die promulgering van die wet.”

Die ooreenkoms bepaal, buiten dat die artikels oor skole se taal- en toelatingsbeleide nie meer in Desember ingestel gaan word nie, dat norme en standaarde, nasionale beleide en regulasies eers ontwikkel moet word. Dit sal onder meer bepaal dat skole wat volle kapasiteit bereik het, nie opdrag mag kry om hul taal- en toelatingsbeleid te verander nie. Die onmiddellike omgewing van die skool en sy voedingsone, eerder as die groter onderwysdistrik, moet ook in ag geneem word.

Die uitvoering van die aanbevelings sluit egter nie die moontlikheid uit dat daar ’n behoefte mag wees vir toekomstige wetswysigings aan artikel 4 en/of 5 van die Bela-wet nie.

Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, het tydens die konferensie gesê die ooreenkoms word deur verskeie onderwysnetwerke en ander organisasies ondersteun. “Ons standpunt was dat ons glo aan die demokratiese beheer van ouers in skole deur middel van beheerliggame, asook aan Afrikaanse moedertaalonderrig en ook moedertaalonderrig in geheel. Ons wil nie hê die regering moet beheer oor skole hê nie omdat ons gesien het wat met skole gebeur wat deur hulle beheer word waar ouers nie ’n sê gehad het nie,” het Buys gesê.

Hy het verder gesê dat die ondersteuning by die Bela-optog vroeër vandeesmaand aan die Solidariteit Beweging meer wringkrag gegee het om hierdie ooreenkoms te bereik.

Alhoewel harde werk nog voorlê, het Buys gesê dat die Solidariteit Beweging nie gaan toelaat dat skole geboelie word deur amptenare wat nie bewus is van die ooreenkoms nie of wat kies om dit te ignoreer.

“Die Bela-stryd is die belangrikste geveg waarby AfriForum sedert sy ontstaan betrokke was. Bela se bepalings oor skole se taalbeleid, sou dit geïmplementeer word, het ’n ernstige bedreiging vir die voortbestaan van Afrikaanse kultuurgemeenskappe ingehou. Dit is nie net Afrikaanse skole en kinders wat geteiken sal word deur die implementering daarvan nie, maar ook die strewe na moedertaalonderring vir alle kultuurgemeenskappe,” het Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum gesê.

Kriel het verder gesê dat hulle onbeskaamd vir Afrikaans veg, maar dat hulle weet dat daar baie ander kinders is wat swaarkry omdat hulle nie moedertaalonderrig ontvang nie. Volgens hom het AfriForum reeds verskeie gesprekke met tradisionele leiers gevoer en dit is duidelik dat hulle die strewe deel dat kinders in hul onderskeie gemeenskappe onderrig in hul moedertaal moet ontvang.

“Ons kan net dankie sê aan almal wat die veldtog teen Bela ondersteun het. Die oorweldigende steun van die publiek en die feit dat duisende mense aan die optog teen Bela deelgeneem het, het die deurslag gegee,” het Kriel gesê.

AfriForum het ook gister die 17de sitting van die Verenigde Nasies se Forum vir Minderheidsaangeleenthede in Genève, Switserland, bygewoon om steun te werf teen die vernietigende gevolge van wetgewing wat oorvol skole en verengelsing moontlik maak, soos wat die nou aangepaste toelatings- en taalbeleidbepalings van die Bela-wet sou inhou.

Hierdie stap is deel van die organisasie se internasionale veldtog vir die bevordering van moedertaalonderrig.

Alana Bailey, AfriForum se hoof van Kultuursake, het dié VN-geleentheid bygewoon. Sy het in haar voorlegging tydens gister se sitting beklemtoon dat die politieke wil om moedertaalonderrig volhoubaar te bevorder, by Suid-Afrikaanse owerhede ontbreek.

“Die negatiewe gevolge van wetgewing soos Bela kan vernietigend vir Afrikaanse gemeenskappe wees, maar sal op die lange duur ewe nadelige gevolge vir die taalgemeenskappe en sosio-ekonomiese groei van suidelike Afrika as geheel inhou. Dit is daarom noodsaaklik om die risiko wat dit inhou onder die internasionale gemeenskap se aandag te bring sodat hulle ook druk op die Suid-Afrikaanse regering kan toepas om erns te maak met moedertaalonderrig,” het sy gesê.

Verskeie taalregteaktiviste van elders uit Afrika het Bailey genader en die behoefte aan samewerking uitgespreek. “Ons sien uit daarna om ’n wyer netwerk van instellings wat gehalteonderrig in moedertale voorstaan, te skep.”

Soortgelyke plasings