|

Bela-optog gaan voort al weier Freedom Park toegang; McKenzie gevra om in te gryp

Freedom Park het Afrikaanse organisasies se aansoek om ’n vreedsame protesoptog teen die Bela-wet wat beplan word vir 5 November en tot by dié nasionale erfenisterrein sal volg, afgekeur. Die Solidariteit Beweging het in reaksie daarop hul tot die minister van Sport, Kuns en Kultuur, Gayton McKenzie, gewend en doen nou ’n beroep op die minister om dringend in te gryp om toe te sien dat Freedom Park dié besluit heroorweeg.

Die aksie word gereël om protes aan te teken teen Artikel 5 en 6 van die Wysigingswet op Basiese Onderwyswette 32 van 2024 (Bela-wet) wat die finale besluitnemingsmagte oor skole se toelatings- en taalbeleid van beheerliggame ontneem. President Cyril Ramaphosa het drie maande vir verdere gesprekvoering oor dié artikels gegun. Minstens 50 Afrikaanse organisasies en meer as 70 skole het intussen, tydens die Bela-aksieberaad wat op 10 Oktober gehou is, ’n resolusie aanvaar vir ’n dag van protes en ’n protesoptog om die Afrikaanse gemeenskap se teenkanting teen die twee artikels te wys.

AfriForum het op 14 Oktober in ’n skrywe aan die hoofuitvoerende beampte van Freedom Park, dr. Jane Mufamadi, gerig en amptelik aansoek gedoen om aan die protesgangers toegang tot die terrein te verleen as eindpunt van die optog. In die brief word besonderhede van die beplande optog, die rede vir die optog en die versekering dat alle nodige veiligheidsmaatreëls getref sal word vir die aanbied van die geleentheid, gegee. “Ons beplan om vanaf die Voortrekkermonument na Freedom Park te stap, waar ons beoog om ’n memorandum aan verteenwoordigers van die Regering van Nasionale Eenheid (RNE) en die Presidensie te oorhandig,” skryf Llewellynn Hemmens, AfriForum se distrikskoördineerder vir Pretoria, in die aansoek.  

Mufamadi se antwoord wat, hoewel dit gedateer is as 16 Oktober, eers gister aan die burgerregteorganisasie gestuur is, stel dit egter duidelik dat daar ná “sorgvuldige oorweging” (careful consideration) nie toestemming vir die versoek gegee kan word nie, aangesien “Freedom Park nie die mandaat het om versoeke van dié aard te hanteer nie.” AfriForum is voorts geadviseer om met die Presidensie oor die aangeleentheid te kommunikeer.

Volgens Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, dui Freedom Park se weiering daarop dat dié instelling, wat beweer dat dit Suid-Afrika se erfenis vier, nie die viering of beskerming van Afrikaans en die Afrikaanse gemeenskap as deel van dié mandaat ag nie. “Die park se missie om ’n toekoms as ’n verenigde nasie te bou, sluit skynbaar nie die Afrikaanse gemeenskap in nie, en hul weiering kan slegs geïnterpreteer word as ’n simboliese stap om Afrikaners en Afrikaanssprekendes van deelname aan hierdie eenheid uit te sluit,” verduidelik Buys.  

Die Solidariteit Beweging, wat reëlings vir die protesaksie lei, het sy regspan intussen opdrag gegee om ook met regstappe te begin en, benewens die versoek aan McKenzie, alle moontlike remedies vir die goedkeuring van die protesaksie te ondersoek.

Intussen gaan die Solidariteit Beweging, AfriForum, Solidariteit, die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) en talle ander Afrikaanse instellings voort met planne om die protesoptog te hou en, indien hulle genoodsaak word, die prosessie tot by die ingang van Freedom Park te laat gaan. Groot getalle mense het reeds vir deelname daaraan geregistreer by www.belaprotes.co.za.

Soortgelyke plasings