|

Bela: Die uurglas loop leeg

Connie Mulder, hoof van die Solidariteit Navorsingsinstituut, noem dit ’n kaping van Afrikaanse skole. Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, noem dit die grootste daad van kolonialisme. En Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, sê “die ergste ding wat ’n regering kan doen, is om ’n gemeenskap se skole en kinders te teiken”.

Noem dit wat jy wil, maar die gewraakte Wysigingswet op Basiese Onderwyswette  32 van 2024, oftewel die Bela-wet, kan die landskap van Afrikaanse skole bykans oornag verander.

Die Bela-wetsontwerp waarteen AfriForum en talle ander Afrikaanse organisasies sedert 2017 veg, is in September 2024 deur president Cyril Ramaphosa as wet ingestel. Die implementering van twee sleutelartikels wat sedert die begin aan die hart van AfriForum se veldtog teen Bela gestaan het en ingrypende implikasies op openbare skole se taal- en toelatingsbeleide sal hê, is egter ter elfder ure – ná gesprekvoering met Kriel en Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, – met drie maande uitgestel.

Ramaphosa se besluit is volgens Siviwe Gwarube, minister van Basiese Onderwys, in belang van eenheid in die land geneem. Hoewel dit beslis nie eenheid tussen partye vir en teen die nuwe Onderwyswet gebring het nie, het nagenoeg 50 belanghebbende organisasies en meer as 70 skole onlangs by die Bela-aksieberaad byeengekom en ’n historiese resolusie ter beskerming van Afrikaans en Afrikaanse skole aanvaar.

Dié gemeenskap verklaar nou prontuit: Los ons skole uit!

Dit is wêrelde verwyderd van hoe ’n feesjaar ter viering van Afrikaans se eerste 100 jaar as amptelike taal daarna moes uitsien, maar wanneer hierdie geliefde taal van miljoene bedreig word en Afrikaanse skole se voortbestaan deur wetgewing wat verengelsing wil afdwing in die weegskaal kom, kan dit nie anders nie. Hermann noem dit die rooilyn wat nou oortree is.

Die resolusie wat aanvaar is, stel dit duidelik dat die breë Afrikaanse gemeenskap “enige aanval op of verskraling van moedertaalonderrig in die algemeen en Afrikaans spesifiek” verwerp; dat Bela neig om aan die staat meer mag oor skole te gee en dus “ouers se gesag ernstig ondermyn”; dat die Gautengse Onderwysdepartement se vyandige houding teenoor Afrikaanse skole verwerp word; en dat die artikels oor skole se taal- en toelatingsbeleide wat “aan die onderwyshoof die reg gee om aan skole voor te skryf oor taal en toelating” geskrap moet word.

As deel van die aksieplan vir die beskerming van Afrikaanse skole, is onder meer besluit om op 5 November ’n dag van protes te hou as teken van Afrikaanssprekendes se verwerping van die aanval op moedertaalonderrig in skole. Op dié dag sal ’n protesoptog vanaf die Voortrekkermonument na die naburige Vryheidspark aan die buitewyke van Pretoria gehou word.

Sou die gewraakte artikels ná die konsultasietydperk van drie maande wel ingestel word, sal AfriForum en ander organisasies met hul regstappe teen die wet voortgaan en AfriForum sal ook later in November die Afrikaanse gemeenskap se standpunte rakende Bela by die Verenigde Nasies (VN) se Forum vir Minderheidsaangeleenthede in Switserland belig.

En nou? Nou moet daar vir Afrikaans geveg word. Op 5 November sal die geskiedenis waaroor die volgende generasie sal nadink, waarskynlik bepaal word.

Soortgelyke plasings