BELA – die doringtak wat die oortjies van die seekoei moet wegsteek
Die Departement van Basiese Onderwys is vasbeslote om die BELA-onderwyswet deur te stoomroller. Volgens minister Angie Motshekga is haar departement al tien jaar besig daarmee en “kan hulle nie langer wag nie”.
Dit is verrassend dat die wetsontwerp na tien jaar steeds omstrede is en aangepas moet word. Bowendien is die aanpassings klousules wat geskrap of herbewoord word, maar geen aanvullings insluit om die wetsontwerp in pas met die huidige onderwysomgewing te bring nie.
Telkens steek nog seekoeiore bo die water uit wat die ramptoestand waarin die land se onderwysstelsel verkeer, uitwys, maar hierdie doringtak word voorgehou om die foute te probeer verbloem en die illusie te skep dat dit oplossings bied.
In internasionale vergelykende onderwysstudies, eindig Suid-Afrika deurgaans in die laagste plekke. In die PIRLS 2021-verslag wat leesprestasie gemeet het, vaar Suid-Afrika byvoorbeeld die swakste van 43 lande. Die oplossing wat BELA aanbied, is dat bywoning vir Graad R verpligtend moet wees. Ouers wat kinders wederregtelik uit skole hou, staar tronkstraf in die gesig.
Die departement motiveer die instelling van Graad R deur te verwys na lande soos België en Finland waar ontwikkeling voor kinders se tweede jaar begin. Uiteraard wil ’n mens die beste vir ons kinders hê, maar hoe kan ons lande soos die genoemdes vergelyk met Suid-Afrika, waar 27% van die kinders onder vyf aan wanvoeding-verwante toestande ly, meer as 3 000 skole nog putlatrines het en Tesourie ’n begrotingstekort van R870-miljoen vir die departement voorspel. Is vroeër jeugontwikkeling dan die beste plek om te begin as basiese behoeftes soos voeding en ablusiegeriewe nie voorsien kan word nie?
Antwoorde wat tot dusver gehoor is, sluit in dat die geld “iewers” gevind sal word of dat wetgewing dikwels aanvaar word al bestaan die begroting nie daarvoor nie. Laasgenoemde verduidelik waarom die regering se skuldlas so snel groei. Dan word selfs verklaar dat alles wat aanvaar word, nie geïmplementeer hoef te word nie, wat ons terugbring by die vraag waarom dit dan nodig is.
Tans is daar meer as 32 000 vakante poste in openbare skole. Selfs om Graad R-onderwysers te vind, kan dus ’n krisis wees.
Pas het dit bekend geraak dat meer as vier uit vyf graad 8-leerders en drie uit vyf graad 9-leerders die eerste kwartaallikse eksamens in Maart 2024 gedruip het. Skokstatistieke soos hierdie is nie die gevolg van ’n gebrek aan Graad R-onderrig, of beheerliggame wat sogenaamd kinders kwaadwillig uit skole uitsluit nie. Dit is die gevolg van swak onderrig.
Die uitbreiding van moedertaalonderrig, dissiplinering of opleiding van swak onderwysers en die uitskakeling van sommige onderwysvakbonde se toksiese invloed in skole is enkele oplossings.
BELA gaan egter nie hierdie kwessies uitsorteer nie, in teendeel, die implimentering daarvan sal van hierdie probleme vererger, maar die departement sal dit nie erken nie.
Die publiek mag hulle nie hieroor laat mislei nie, maar moet die BELA-wetsontwerp teenstaan. Meer inligting is beskikbaar by stopbela.co.za.