|

Bela-artikels nié toegepas voor regulasies, soos deur Solidariteit en AfriForum geëis, bestaan nie

Die omstrede artikels 4 en 5 van die Bela-wet kan volgens pres. Cyril Ramaphosa se aankondiging nie toegepas word voordat die minister van Basiese Onderwys, Siviwe Gwarube, ’n tydsraamwerk vasgestel het en die nodige norme, standaarde en regulasies ontwikkel het om magsmisbruik in die toepassing van die wet te voorkom nie.

Prakties beteken dit hierdie artikels kan op geen wyse in die nabye toekoms in werking tree nie. Dit voldoen aan ’n belangrike deel van die eise van die Solidariteit Beweging, insluitende Solidariteit, AfriForum en die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS).

Hierdie deel van die aankondiging is ook belyn met Solidariteit se skikking met die regering by Nedlac. Hierdie skikking bepaal onder andere dat die omstrede artikels nie geïmplementeer kan word voordat norme en standaarde ontwikkel is nie. Norme en standaarde moet volgens hierdie skikking bepaal dat Afrikaanse skole wat vol is nie gedwing kan word om hulle taalbeleid te verander nie, terwyl die taalbehoeftes van die omliggende gemeenskap eerder as die onderwysdistrik in aanmerking geneem moet word.

Enige amptenaar wat probeer om artikels 4 en 5 te implementeer voordat die minister haar werk voltooi, sal onregmatig optree.

Die Solidariteit Beweging, insluitend Solidariteit, AfriForum en die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS), sal enige vorm van intimidasie teenoor skole in die hof uitdaag.

Die president se aankondiging oor die Bela-wet is egter vaag en blyk ’n poging te wees om alle partye tevrede te stel. Die promulgering van die wet is teenstrydig met klaarblyklike regsprobleme. Dit is vreemd dat die president die wet promulgeer, maar die implementering daarvan aan die minister oorlaat.

Die Solidariteit Beweging behou hul reg voor om die proklamasie in die hof te betwis, afhangende van hoe dit in die Staatskoerant gepubliseer word. Daar is ook die voorneme om sekere elemente van die Bela-wet in die hof te toets.

Die fokus verskuif nou na die minister van Basiese Onderwys. Solidariteit het ’n bindende bilaterale ooreenkoms met die minister by Nedlac gesluit, wat sekere beskerming vir Afrikaanse skole waarborg.

Hierdie ooreenkoms moet nou in norme en standaarde omskep word en die Solidariteit Beweging sal toesien dat die beskerming van Afrikaanse skole daarin ingebou word. Die Solidariteit Beweging sal dadelik met die minister daaroor in gesprek tree.

Solidariteit, AfriForum en die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum se regspanne het reeds opdrag om die finale proklamasie deeglik te evalueer. Hulle sal die grondwetlike geldigheid van die Bela-wet toets, insette lewer oor die voorgestelde norme en standaarde, en gereed staan om op te tree indien enige amptenaar probeer om skole te dwing om artikels 4 en 5 nou te implementeer.

Soortgelyke plasings