As idees stilgemaak word: Hoe sommige Suid-Afrikaanse bome die byle in hul woud aanspoor
Deur Ernst van Zyl
Daar is nie een vrye samelewing wat die reg tot vryheid van spraak verkry het sonder om ’n stryd daarvoor te stry en iets daarvoor op te offer nie. Dit is ’n baie brose mensereg wat deur sommige mense as vanselfsprekend aanvaar word en ’n mens kan dit baie makliker en vinniger verloor as wat jy dit verkry het. Die Suid-Afrikaanse filosoof N.P. van Wyk Louw het besef hoeveel intrinsieke waarde hierdie mensereg het, toe hy gesê het: “So noodsaaklik soos die bloedsomloop vir die liggaam is, so noodsaaklik is die sirkulasie van gedagtes vir ‘n volk. Die sirkulasie van gedagtes; dis die vrye uitspreek van eie mening en die aandagtige luister na die mening van ander, sodat ‘n wisselwerking ontstaan… en mettertyd miskien ’n wederkerige begrip en ’n mate van gemeenskaplike oortuiging; dit is die ‘oop gesprek’ nie alleen tussen individue nie, maar ook tussen groepe. En hiersonder is geen gesonde politieke lewe moontlik nie.”
Die versmoring van vrye spraak is politiese selfmoord.
Met die koms van die nuwe dekade vir Suid-Afrika is daar baie mense wat terugkyk en die vorige dekade se konstruktiewe en desktruktiewe eienskappe bespreek. Daar word algemeen saamgestem dat die opkoms van ’n “mondsnoer-kultuur” die mees regressiewe verskynsel van die 2010s was – verskillende individue of groepe is daarop uit om mense wat nie met hul gekose narratief saamstem nie, stil te maak of van ’n platform te ontneem. Hierdie verskroeide-aardetaktiek op die slagveld van idees is dikwels goed verskuil agter emosiebelaaide, passievolle leuses wat die feit dat redelikheid en rasionaliteit geïgnoreer word, moreel probeer regverdig.
Die geslaagde etikettering van die geteikende individu(e) se idees as “gevaarlik vir die samelewing”, “’n bedreiging vir ons demokrasie”, of “rassisties”, dien as ’n gerieflike morele basis om hul stemme deur middel van sensorskap of verbanning stil te maak. Die teenoorgestelde is egter ook ongelukkig waar. As dialoog en debat oor verskillende sienswyses verhoed word, is dit ’n ernstige bedreiging vir ’n gesonde demokrasie en ongetwyfeld die gevaarlikste. Sonder die reg tot vryheid van spraak, is jou hande afgekap om jou ander fundamentele menseregte te beskerm. ’n Mens moet dus volstaan by die feit dat vryheid van spraak die kosbaarste en mees beskermde mensereg in enige vrye samelewing behoort te wees.
Die opruiers maak geredelik gebruik van die taktiek om die geteikende persoon te etiketteer, veral op sosiale media. In plaas daarvan dat die verwydering van iemand se rekening of bladsy verduidelik word aan die hand van spesifieke voorbeelde van die aangeklaagde se onaanvaarbare gedrag, ontvang die persoon eenvoudig ’n algemene neerhalende etiket as “rassisties”, “ver-regs”, “fascisties”, ens.
Wanneer ’n mens vra wat die persoon gedoen het om so ’n verdoemende etiket te verdien, is die antwoord gewoonlik dat die persoon so perfek in die rol pas dat slegs ’n blinde mens dit nie sal kan raaksien nie. Wat vir my die lagwekkendste, maar ook die ontstellendste is hieroor, is die onheilspellende ooreenkoms tussen hierdie taktiek en die heksejagte en -verbrandings in Europa gedurende die Middeleeue. Volgens die opruiers was daar een onteenseglike teken dat iemand ’n heks was (destyds) of ’n rassis is (vandag): as die persoon dit heftig sou ontken. Ek is nogal nuuskierig om te weet: sou hedendaagse heksejagters dink rassiste kan sink of dryf?
Daar is invloedryke mense wat saamstem dat diegene wat van hulle verskil, van hul stem ontneem moet word. Mense wat die ontneming van ’n platform voorstaan en/of aanmoedig as dit kom by mense met wie hulle nie saamstem nie. Mense wat woede aanhits teenoor diegene wat ’n ander standpunt as hulle het. Wat veral kommerwekkend is, is die beroepe wat hierdie individue volg – dit sluit komediante, strokiesprentkunstenaars en selfs prominente joernaliste in. Dit is veral kommerwekkend omdat hierdie juis die mense is wat ’n mens verwag sal veg vir die behoud van vryheid van spraak, want dit is nie net hul eie lewensbestaan wat in gedrang is nie, maar ook hul selfrespek en die beginsels waarop hul beroepe berus. Dié wat nie permanent deur die opruiers “gekanselleer” word nie, oorleef slegs as hulle na die opruiers se pype dans. Dit is telkemale in die verlede bewys dat opruiers nie maklik tevrede gestel word nie, en daar is baie meer doeltreffende maniere om mense se monde te snoer as om net daarop aan te dring dat hulle stilbly.
Wanneer mense kyk na die ergste diktatorskappe en outoritêre regimes in die geskiedenis van die mensdom, is hulle dikwels stomgeslaan oor hoe dinge toegelaat is om tot so ’n punt te vorder. Hulle besef nie dat die mense in daardie betreurenswaardige lande nie net een oggend opgestaan het en hulself in ’n tirannie bevind het nie – die situasie het stadig maar seker begin verander. As jy nie opstaan teen sensorskap en die ontneming van ’n platform nie – eenvoudig omdat jy nie met die mense saamstem wat daardeur geraak word nie – moet jy nie verbaas wees as die selfaangestelde wagte wat besluit watter gedagtes toelaatbaar is, eendag op jou ook toesak nie … en dan sal daar niemand wees om vir jou op te kom nie.
Baie mense is nie gepla oor die sensorskap of ontneming van ’n platform van mense met wie hulle nie saamstem nie – diegene wat hulle as “gevaarlik” of “haatlik” beskou. Sensorskap word immers nie teen hulle self gebruik nie, maar wel teen hul vyande of diegene van wie hulle nie hou nie … vir eers.
Ons moet dalk die waarskuwing ter harte neem uit die ou Turkse gesegde: “Toe die byl na die woud toe kom, het baie van die bome gesê: ‘Die handvatsel is ten minste een van ons.’”
Ernst van Zyl is die veldtogbeampte vir strategie en inhoud by AfriForum. Hy is ’n mede-aanbieder op die Podlitiek-potsend en bied die Stream of Consciousness-onderhoudkanaal op YouTube aan. Ernst gebruik gewoonlik die skuilnaam Conscious Caracal op Twitter en YouTube (volg hom by https://twitter.com/ConCaracal).