ANC wys hy is steeds vasbeslote om aan te hou karring oor privaat eiendom
Die ANC het in 2021 misluk in sy poging tot parlementêre aanvaarding van sy grondwetlike wysiging wat die onteiening van privaat eiendom sonder vergoeding moontlik sou maak, maar soos wat AfriForum voorspel het, is die ANC steeds vasbeslote om eiendomsregte te verwater en regeringsinmenging in en regulering van sake rakende privaat eiendom te vergroot.
’n Onlangse ekonomiese beleidsdokument van die ANC bevat nuwe voorstelle oor grondhervorming, insluitende die daarstelling van ’n Agentskap vir Landbou-ontwikkeling met as doel die skep van beleid en prosesse om grondskenkings aan swart boere te fasiliteer, asook die daarstelling van aansporingsmeganismes – soos SEB-erkenning – vir boere wat grond skenk of steun verleen aan swart boere. Voorts sal die agentskap ’n Grondhervormingsfonds bedryf (wat in die Land Bank gevestig sal wees), vordering met grondtransaksies aanteken en moniteer, en ook advies gee oor vennote vir swart boere.
Wat ons hier het, is nog ’n versluierde poging deur die ANC-regering om die staat se inmenging en invloed in sake rakende privaat eiendom te vergroot. Die kanse dat hierdie agentskap op ’n neutrale en billike wyse sal optree, is bitter skraal. Wat die land nodig het, is minder inmenging deur die regering, nie meer nie, en nog ‘n regeringsagentskap is iets wat die land beslis nie nodig het nie. Dit is net nog ’n fonds wat die regering wil instel wat ’n lekker nuwe soustreingeleentheid vir kaders bied om straffeloos te plunder.
Die ANC hou steeds valslik vol dat die gewillige-koper-gewillige-verkoper-model misluk wat grondherverspreiding betref. Dit is ’n desperate sondebok, gesien die feit dat die ANC-regering al meer as R60 miljard aan grondhervorming bestee het maar net ongeveer 6.3% van die grond wat aangekoop is, aan privaat eienaars oorgedra is. Die probleem is dus nie ’n gebrek aan gewillige verkopers nie, maar veel eerder dat die ANC ’n onwillige verspreider is van die grond wat hy opgegaar het. Om skande by skade te voeg, beland die grond wat herversprei word, gewoonlik in die hande van diegene met politieke bande. Gesien die ANC se baanrekord, kan hy nie waarborg dat die grond wat geskenk word, nie in die hande van die regering of diegene met politieke bande sal beland nie.
Die staat, deur verskeie staatsorgane, besit ten minste 17 miljoen hektaar grond – nagenoeg die oppervlakte van KwaZulu-Natal en Mpumalanga gesamentlik. Hoekom wil die regering verdere skenkings van grond vir verspreiding hê as hy reeds so ’n groot hoeveelheid grond het?
Die voorgestelde betrokkenheid van die Land Bank is ook kommerwekkend, want hierdie bank het reeds verliese van miljarde rand gely. In 2021 is daar in ’n verslag van die Ouditeur-generaal bevind dat die Land Bank se finansiële verliese met 211% tot R2.8 miljard toegeneem het vir die jaar tot 31 Maart 2020, vergeleke met ’n verlies van R902 miljoen in die vorige jaar. Die sukkelende Land Bank is dus nie in ’n posisie dat verdere verantwoordelikhede of invloed aan hom toevertrou kan word nie.
Die feit dat die ANC se plan voorsiening maak vir die toekenning van SEB-punte aan deelnemende grondeienaars, toon nogmaals dat die ANC vasbeslote is om sy rasagenda in elke beleid en plan in te voeg. Hoewel die ANC die illusie probeer skep dat die fondse vir hierdie projek uit skenkings van die privaat sektor verkry sal word, verklaar die beleid duidelik dat fiskale toekennings ook gebruik sal word om hierdie projek te befonds. Dus sal die belastingbetaler weer eens vir ’n groot deel van nog ’n rekening moet opdok. Die ANC is sonder twyfel op die agtervoet sedert sy mislukking in die parlement om staatsdiefstal van privaat eiendom te wettig, en die party word toenemend desperaat. Die stryd om privaat eiendomsregte te beskerm en te voorkom dat nog meer grond in die hande van politici en diegene met politieke bande beland, duur voort, en AfriForum is ewe vasbeslote om die stryd voort te sit en ’n wakende oog