ANC-regering versaak boere op staatsgrond
Drie boere wat op staatsgrond boer het vandag tydens ’n mediakonferensie van AfriForum en Saai hul tragiese verhale vertel van mislukte grondhervormingsprojekte.
Whiskey Kgabo (Limpopo), Vuyani Zigana (KwaZulu-Natal) en Johannes Bezuidenhout (Wes-Kaap) voer al drie ’n stryd om grondsekerheid op die staatsgrond waarop hulle suksesvol boer en het verskeie uitdagings met die owerhede.
’n Emosionele Kgabo het tydens die konferensie vertel daar word onwettig op sy grond geplak en omdat hy nie ’n titelakte vir die grond het nie, wil die SAPD hom nie help om die plakkers van sy grond te verwyder nie. Die SAPD beskou dit as politiekery en nie as ’n misdryf nie en glo daarom dat die Departement van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling tot die saak moet toetree. Hy word dus van bakboord na stuurboord gestuur sonder enige oplossing.
Zigana is in 2019 van die staatsgrond waarop hy geboer het, afgesit en sy vee is geskud. “Ek het alles verloor, maar het hulp van AfriForum en Saai ontvang en die saak kon buite die hof opgelos word.”
Hy boer egter nie meer op daardie grond nie, maar op ’n ander plaas omdat die grond waarop hy geboer het aan iemand anders, wat reeds grond besit en na bewering politieke bande het, toegeken is. Die nuwe plaas is aansienlik kleiner en volgens hom is dit moeilik om te boer as jy nie genoeg grond het nie.
Johannes Bezuidenhout is ’n suksesvolle merinoboer wat al heelwat pryse ingepalm het en selfs kommersiële boere in landboukompetisies uitgestof het. Ondanks sy sukses, sukkel hy ook om ’n huurkontrak by die regering te kry al het hy in 2020 reeds ’n dokument ontvang wat bevestig dat hy ’n 30 jaar huurkontrak gaan ontvang. Hy voel dat die sukses wat hy al behaal het as boer nie in ag geneem word nie.
“Die departement meng politiek met boerdery. Ek is baie teleurgesteld. Ek het ses werknemers wat ook bekommerd is oor hulle werk.”
Volgens dr. Theo de Jager, direksievoorsitter van Saai, verdien die begunstigdes beter en versaak die regering hierdie boere. “Die onwilligheid en onvermoë van die regering om sy begunstigdes se basiese belange, eiendom en regte te beskerm, is die vernaamste oorsaak dat daar nog nie ’n klas winsgewende swart boere in die land is nie.
“Hoe kan daar mededingend geboer word in sulke omstandighede? Die sisteem wat grondhervorming bestuur gaan ons nêrens bring nie, die land gaan slegs suksesvolle kandidate verloor,” sê De Jager.
Hierdie drie boere is maar enkeles wat deel vorm van ’n groot aantal boere wat ’n soortgelyke stryd voer vir grondsekerheid van die staatsgrond waarop hulle tans suksesvol boer. Dié boere sukkel onder meer met langtermyn huurkontrakte wat nie toegeken of hernu word wanneer dit verstryk nie en grond wat toegeken word, word reeds deur ander mense beset of benut. Die onsekerheid oor eienaarskap beïnvloed ook hierdie boere se toegang tot finansiering en maak dit vir hulle onmoontlik om optimaal te boer. Dit is algemeen bekend dat die regering hierdie suksesvolle boere van hulle plase af skuif om plek te maak vir kaders.
“Die regering se totale onbeholpenheid om vir boere wat suksesvol op staatsgrond boer grondsekerheid te verskaf, bedreig welvaartskepping en voedselsekerheid. Dit wek ook agterdog oor of die regering werklik opkomende boere se sukses wil verseker. Dit is duidelik dat die regering nie die vermoë het om die staatsgrond te bestuur nie, om daarom te praat van die uitbreiding van staatseiendom, deur byvoorbeeld onteiening, is eenvoudig irrasioneel,” sê Barend Uys, hoof van Interkulturele Verhoudings en Samewerking by AfriForum.
*Foto’s: Marthinus Koekemoer