|

Alfa-buurtwag se spoedige reaksie help met arrestasies

AfriForum se Alfa-buurtwag het op 26 September in samewerking met verskeie veiligheidsrolspelers ses verdagtes in Sandbaai aangekeer. Hulle is in die vroeë oggendure gevang nadat gemeenskapslede die buurtwag van die verdagtes se doen en late in kennis gestel het. Die ses verdagtes het in drie groepe van twee saamgewerk.

Aanvanklik is vier verdagtes vasgetrek nog voordat hulle iewers kon inbreek. Binne 60 minute is nog twee verdagtes gevang wat in besit was van ’n skootrekenaar, selfoon en elektriese koord.

AfriForum se Alfa-Buurtwag het die vier verdagtes in samewerking met CU Live, ADT en Safe Security Systems gevang en hulle aan die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) oorhandig wat die saak verder ondersoek. Twee van dié verdagtes word verbind met ’n vorige huisbraaksaak en diefstal uit ’n voertuig.

“Hierdie suksesvolle intervensie beklemtoon die belangrikheid van gemeenskapsbetrokkenheid en aktiewe deelname in die handhawing van ’n veilige omgewing. Die waaksaamheid en vinnige optrede van hierdie groepe dien as ’n inspirerende voorbeeld vir ander gemeenskappe, wat die impak van proaktiewe gemeenskapswagprogramme en die ondersteuning van wetstoepassingsagentskappe beklemtoon,” sê Jacques Benade, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Boland.

Lede van die gemeenskap word aangemoedig om by AfriForum se Overstrand-tak en Alfa-buurtwag betrokke te raak. Besoek www.wordlid.co.za.

Soortgelyke plasings