Alberton-tak skep bewusmaking oor veiligheid
AfriForum se Alberton-tak het die afgelope naweek ’n baie suksesvolle geleentheid aangebied om bewustheid oor veiligheid in die omgewing te verhoog. Die dag het verskeie praatjies vir jongmense ingesluit, wat die nodige kennis gebied het oor hoe om ontvoerings te voorkom, tegnieke om veilig met brande en vure om te gaan, asook omgewingsbewustheid. Die dag het ook ’n boomplantinisiatief ingehou.
Bywoners kon deelneem aan pret aktiwiteite soos toutrek en sakresies, terwyl daar ook die geleentheid was om teikens met lugsaggewere te skiet.
Die doel van hierdie inisiatief was om ’n ruimte te skep waar bure mekaar kon ontmoet en terselfdertyd kon skakel met die verskeie rolspelers binne die gemeenskap se veiligheidstrukture. Verskeie organisasies waaronder privaat veiligheidsmaatskappye, die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD), die gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) en privaat brandweerdienste, het aan die inisiatief deelgeneem. AfriForum se Alberton-tak het ook sy verskeie inisiatiewe ten toon gestel, soos die sny van grasperke, projekte wat daarop gefokus is om parke skoon te maak en die herstel van slaggate. Die tak se nuwe span wat opgelei is om brande te bestry, was ook teenwoordig.
AfriForum se Alberton-tak bedank alle rolspelers wat van hierdie dag ’n reuse-sukses gemaak het.
“Die doel van hierdie projek was om bewustheid te skep oor veiligheid in die omgewing en om seker te maak dat die Alberton-gemeenskap hulself mobiliseer om aktief betrokke te raak by die veiligheid van hul dorp. ’n Gemeenskap wat in sy diversiteit bymekaarkom om gemeenskaplike sake op te los en ’n kultuur van samewerking, selfdoen en respek vir die omgewing te bevorder, is ’n gemeenskap wat voorbereid is vir sukses,” sê Jurie Ferreira, AfriForum se distrikskoördineerder aan die Oos-Rand.
“Ons hoop dat projekte soos hierdie die gemeenskap sal inspireer om betrokke te raak en ’n verskil in hul omgewing te maak,” sluit Ferreira af.
Die Alberton-tak doen ’n beroep op die gemeenskap om betrokke te raak by hul gemeenskap en om by die tak aan te sluit: Besoek www.wordlid.co.za.