|

Alberton-tak blus ses brande in een nag

Die AfriForum-tak in Alberton het op 6 Junie daarin geslaag om ses brande te blus voordat dit katastrofies kon raak.

Die brandspan het hul eers na ’n brand in Besembos, Mayberrypark, gehaas en gesien dat hierdie brand stadigaan besig was om dood te gaan terwyl ’n ander brand by Christo’s Pizza en die Engen-vulstasie dringende aandag vereis het. Hierdie brand is vinnig geblus en die span het die waterkar ook ingespan om die bosse, wat ook gebrand het, te behandel sodat die brand nie weer kon begin nie.

Die span het hulself hierna gehaas na die brande wat langs die R59 gewoed het. Dié brande is ook suksesvol geblus. Tien toegewyde brandspanlede, gewapen met hul brandbestrydingswaterkar en rubbermatte, het omgesien na hierdie brande.

“Ons is diep dankbaar teenoor die gemeenskap vir die doeltreffende kommunikasie wat ons brandspan in staat gestel het om vinnig te reageer en ons gemeenskap te dien,” sê Jurie Ferreira, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Oos-Rand. “Dit is ’n bewys van die krag van gemeenskapsamewerking en die toewyding van ons brandspanne om veiligheid en sekuriteit te verseker.”

Die gesamentlike pogings van gemeenskapslede en die AfriForum-brandspanne maak ’n beduidende verskil in die beskerming van lewens en eiendom.
AfriForum moedig inwoners aan om waaksaam te bly en om voort te gaan om plaaslike veiligheidsinisiatiewe te ondersteun.

“Ons hoop dat projekte soos hierdie die gemeenskap sal inspireer om betrokke te raak en ’n verskil te maak in hul eie gemeenskap,” sluit Ferreira af.

Die Alberton-tak doen ’n beroep op die gemeenskap om betrokke te raak by hierdie tak en sodoende ’n verskil in hul gemeenskap te maak. Besoek www.wordlid.co.za vir meer inligting.

Soortgelyke plasings