|

Al vloei die water in Bethal, is die stryd nie verby, sê AfriForum

AfriForum is dankbaar dat die watertoevoer na die Govan Mbeki-munisipale gebied ná ’n lang uitgerekte hofstryd uiteindelik herstel is. Inwoners in dié munisipale gebied, waaronder Bethal, se krane het sedert 17 Desember 2024 weer water. Inwoners wat maande lank sonder water was, het skielik ononderbroke water. AfriForum is egter nie naïef nie en weet die probleem is nie opgelos nie en verwag dat die waterkrisis enige tyd weer sy kop kan uitsteek.

Hoewel die Pretoriase Hooggeregshof nie ’n interdik wat Rand Water verplig om die watertoevoer ten volle te herstel in AfriForum se guns toegestaan het nie, is AfriForum reeds besig om verdere stappe te oorweeg. Rand Water het in verskeie skrywes aan AfriForum aangevoer dat die waterdruk na die Govan Mbeki-munisipale gebied nie verminder is nie. Dié waterverskaffer het tot nou toe egter steeds geen verduideliking vir die watertekorte nie en plaas deurentyd die onus op Gautengers se hoë waterverbruik.

AfriForum voer aan dat indien die toename in die waterverbruik veroorsaak dat sekere dorpe nie meer water kan kry nie, moet Rand Water dit met die betrokke munisipaliteite opklaar en dit op ’n openbare manier doen sodat alternatiewe planne gemaak kan word.

AfriForum beplan ook verdere uitbreidings aan noodwaterpunte en moontlike oplossings vir watervoorsiening om die las op boere te verlig. Boere in die Bethal-omgewing moes sedert Maart 2024 tot 17 Desember 2024 meer as twee miljoen liter water met trekkers en watertenkwaens teen geen vergoeding aanry om op te maak vir die Govan Mbeki Plaaslike Munisipaliteit en Rand Water se tekortkominge.

“Inwoners van die Govan Mbeki-munisipale gebied – meer spesifiek Bethal – weet dat die Govan Mbeki-munisipaliteit en Rand Water die feite verdraai. Dit is net ’n kwessie van tyd voor die waarheid gaan uitkom. AfriForum sal aanhou veg vir geregtigheid maar vir nou ons is dankbaar dat ons wel water het,” sê Hennie Bekker, distrikskoördineerder vir AfriForum in die Hoëveld.

Soortgelyke plasings