Akademici vra vir “redding” van universiteite terwyl ramp rondom gratis onderrig dreig
Deur Alet Rademeyer
Die regering sal dringend met werkbare oplossings vorendag moet kom om potensiële anargie op universiteitskampusse af te weer ná dreigemente deur die South African Union of Students (Saus) om universiteite te sluit as hoër onderrig nie gratis gemaak word nie.
’n Kommissie onder voorsitterskap van oudregter Jonathan Heher is begin vanjaar deur pres. Jacob Zuma aangewys om die lewensvatbaarheid van gratis hoër onderwys te ondersoek. Die kommissie is tans met sittings besig.
Die kwessie van gratis hoër onderwys het vanjaar reeds tot talle protesoptrede, miljoene rande se skade aan instellings en verlore onderrigtyd op kampusse gelei waar radikale studentegroepe die #feesmustfall-veldtogte gelei het.
Die befondsingskrisis by openbare universiteite is reeds so op die spits gedryf dat akademici en verteenwoordigers van die SA Historical Association (SAHS) en die Historiese genootskap van Suid-Afrika (Hasa) begin het om ’n ope brief te onderteken vir die “redding” van universiteite. Die brief sal aan Zuma en die ministers van hoër onderwys en finansies gerig word.
Die akademici vra dat die regering die krisis by universiteite moet hanteer.
Hulle wys daarop dat die post apartheid-strategie van die regering was om ras- en klasse-ongelykheid te verminder en toegang tot universiteite te verhoog. Tussen 1994 en 2014 het die getal universiteitstudente verdubbel en die proporsie swart studente het van 52% tot 81% toegeneem. Die “massifikasie” van hoër onderwys is verwelkom om by te dra om ’n beter samelewing te bou. Die dilemma is egter dat dit nie met voldoende befondsing gepaard gegaan het nie, meen die akademici.
Jaar na jaar het die regering se reële besteding aan openbare universiteite afgeneem. Die gevolg is dat instellings moes begin besnoei en gedwing was om inkomste uit verhoogde klasgelde en ’n derde stroom te kry.
Ondanks verhogings in die regering se nasionale studentefinansieringshulpskema (Nsfas) het verhoogde studiegelde daartoe gelei dat al hoe meer studente uitgesluit is. Die toedrag van sake het tot gevolg dat gehalte van onderrig en infrastruktuur agteruitgaan.
Luidens die brief kan openbare universiteite beswaarlik nog as openbare instellings gereken word aangesien subsidie tot universiteitsbegrotings van ’n reeds lae 49% in 2000 tot 40% in 2012 gedaal het.
Die akademici wys op talle probleme wat hieruit voortgevloei het soos behuising vir studente, ’n tekort aan laboratoriums en lesinglokale en onhanteerbare studentegetalle teenoor beskikbare personeel.
“Die gebrek aan investering in openbare universiteite is nie net ’n nasionale krisis nie, maar het ’n negatiewe impak op instellings se posisie in Afrika. Ons het ons limiet bereik. Instellings kan nie meer enige besnoeiings hanteer sonder om die akademiese projek in gevaar te stel nie,” lui die brief.
Onderwyskundiges met wie Forum Nuus gepraat het, meen openbare universiteite is inderdaad op die rand van inploffing gegewe verskeie uiters kommerwekkende scenario’s wat uitspeel.
Aan die eenkant is universiteite wat uitgelewer is om nog meer studente te akkommodeer terwyl hulpbronne uitgeput is en aan die anderkant is gefrustreerde jongmense wat onderrig as ’n reg opeis. Die getal universiteitstudente is tans sowat 1,1 miljoen.
“Die regering het met vroeëre beloftes van gratis onderrig ’n monster geskep wat hoër onderwys nou gaan vernietig. Die owerhede het nie eintlik veel ander opsies as om meer geld beskikbaar te stel en alternatiewe vorme van naskoolse opleiding op standaard te kry nie. Daar is te veel studente op universiteit wat nie die mas opkom nie gegewe die feit dat meer as die helfte wat inskryf uiteindelik nie hul studies voltooi nie,” het een ontleder gesê.
Alana Bailey, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, meen gratis onderrig vir almal is nie in ’n land soos Suid-Afrika haalbaar nie. Boonop het ’n gratis-model ander negatiewe implikasies soos aanspreeklikheidsvlakke. “Gratis onderrig sal ook nie-verdienstelike studente lok omdat dit toelaes beteken waarop hulle kan oorleef. As hulle nooit niks hoef terug te betaal nie, rus daar geen onus op hulle om klaar te studeer of iets in die ekonomie terug te ploeg nie.”
Bailey meen ook onderwys behoort aan die wat daarvoor betaal. “As die staat volledig gratis onderrig verskaf, is daar geen verweer teen ideologieë wat hy afdwing nie en kan daar ook nie meer sprake van akademiese vryheid en outonomie wees nie.”
Bailey meen universiteite het ook ’n plig om radikale studente tot orde te roep. “Studente-opstande wat selfvernietigend is, dui op ’n gebrek aan leierskap wat hulle van nêrens kry nie. Instellings is besig om hul geloofwaardigheid te verloor en werkgewers sal twee keer dink voordat hulle studente in diens neem wat hier afstudeer.”
AfriForum het ook vroeër reeds gesê dat versoeke deur groepe soos Students for Law and Social Justice (SLSJ), dat ryk studente arm studente se studies moet subsidieer, verregaande is.