|

Afskop van AfriForum se jaarlikse vullisterreinouditprojek plaas vulliskrisis onder vergrootglas

’n Helder oranje vullisverwyderingsvragmotor het vandag voor die Departement van Bosbou, Visserye en Omgewingsake se kantoor in Pretoria stilgehou waar AfriForum sy versoekskrif om weer vanjaar vullisterreinoudits te verrig aan die adjunk-direkteurgeneraal vir afvalbestuur, Mamogala Musekene, oorhandig het. Sharief Starke, die waarnemende direkteur van regering en uitvoerende ondersteuning by die kantoor van die direkteurgeneraal, het die versoekskrif namens Musekene in ontvangs geneem.

Hierdie aksie het die organisasie se jaarlikse vullisterreinouditprojek afgeskop. Dié projek bepaal die mate waartoe vullisterreine in die munisipaliteiete waarin AfriForum se nagenoeg 160-takke landwyd gesetel is, aan die vereistes van afvalbestuurswetgewing voldoen. Oudergewoonte gaan vullisterreinoudits tydens Februarie uitgevoer word en die uitslae sal later in die organisasie se vullisterreinouditverslag bekendgemaak word.

Sedert die aanvang van hierdie projek in 2014 neem AfriForum jaarliks waar hoe weinig munisipaliteite die relevante afvalbestuurswetgewing se vereistes nakom en dat daar ’n gebrek aan aanspreeklikheid vir behoorlike afvalbestuur, monitering en lisensiëring by plaaslike owerhede bestaan. AfriForum is van mening dat indien hierdie probleme nie dringend aangeroer word nie, dit tot ’n algehele ineenstorting van afvalbestuur kan lei. 

Die dreigende afvalbestuurskrisis wat Suid-Afrika in die gesig staar en waarop AfriForum al telkemale die kollig geplaas het, hou reeds ernstige implikasies vir Gauteng in. Kenners in die afvalbestuurindustrie het tot die onrusbarende gevolgtrekking gekom dat Gauteng se kapasiteit om vullis op vullisterreine te stort binne ’n maksimum van vyf jaar uitgeput sal wees. Dít is as gevolg van swak bestuur van bestaande munisipale vullisterreine, die beperkte oorblywende spasie op dié terreine en feitlik geen vooruitsigte of geskikte plekke vir nuwe vullisterreine in Gauteng nie.

“Die regering se versuim om bestaande vullisterreine behoorlik te bestuur, volhoubare vullisbestuurspraktyke te implementeer en die ontwikkeling van nuwe terreine te beplan, beteken dat gemeenskappe toenemend blootgestel word aan onwettige storting, besoedeling en die gepaardgaande gesondheidsrisiko’s,” sê Marais de Vaal, AfriForum se adviseur vir Omgewingsake. “Met AfriForum se vullisterreinoudit wil ons samewerking tussen gemeenskappe en die drie regeringsfere kweek met die doel om positiewe verandering in die bestuur van afval in Suid-Afrika te bewerkstellig.

Benewens die waghondfunskie wat AfriForum deur middel van die vullisterreinouditprojek uitoefen, maak AfriForum ook tasbare bydraes om die vulliskrisis op te los deur onder meer ’n suksesvolle herwinningsprojek in Centurion en ’n vullisverwyderingsdiens in Bloemfontein te bedryf. Hierdie inisiatiewe gaan in 2025 na ander dorpe uitgebrei word.

Soortgelyke plasings