Afrikaners sal die 21 ste eeu oorleef mits hulle die regte keuses maak
Ondanks tientalle uitdagings wat Afrikaners in die gesig staar, sal hulle die 21 ste eeu oorleef en is daar beslis vir hulle ’n toekoms.
Só meen verskeie meningsvormers wat vandag aan ’n paneelbespreking by die Erfenisstigting in Pretoria deelgeneem het waar dr. Leopold Scholtz, skrywer en historikus, se boek Kruispaaie – Afrikanerkeuses in die 19 de en 20 ste eeu bekend gestel is.
Die boek word deur Kraal Uitgewers uitgegee.
Deelnemers aan die gesprek was Scholtz, Barnard Beukman, redakteur van Beeld, Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging en prof. Fransjohan Pretorius, geskiedkundige. Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, was die gespreksleier.
Scholtz het gesê sy doel met die boek is nie om die Afrikaner se verlede te verheerlik of te kriminaliseer nie. “My doel was eerder om te kyk wat in die verlede gebeur het en hoe bepaalde besluite die geskiedenis beïnvloed het.”
Volgens Scholtz is daar groot ooreenkomste tussen die situasie waarin Afrikaners was na die Vrede van Vereeniging in 1902 en vandag. Hy meen net soos wat Afrikaners toe moes opstaan om vir hulself ’n toekoms te skep, is dit nou weer die geval. “Die toekoms sal uit hulself moet kom.”
Scholtz meen van die grootste foute wat Afrikaners in die verlede gemaak het, was om besluitneming net aan leiers oor te laat en nie vir hulself te dink nie. “Afrikaners het sag geword en afhanklik van die staat. Dit het daartoe gelei dat hulle later leierloos, radeloos en moedeloos was. In die toekoms sal ons die keuse moet maak dat ons wil voortbestaan. En om dit te doen, is dit belangrik dat Afrikanerskap herdefinieer moet word na inklusief. Afrikanerskap sit nie in velkleur nie. Dit sit tussen mense se oë en in hul harte.”
Oor die verlede het hy gesê Afrikaners moet besef dat apartheid moreel onhoudbaar was en nooit kon slaag nie. Hy meen as Afrikaners en die ANC praat en oor die toekoms besin, is dit noodsaaklik dat albei groepe meer beskeie en minder arrogant moet wees. Nederigheid teenoor mekaar is nodig.
Beukman het die vraag gevra of die Afrikaner inderdaad weer by ’n kruispad is en of dit net stormwinde is waardeur die groep gaan. Hy meen Afrikaners behoort meer ’n ontleding van die verlede en die geskiedenis te doen om te verstaan wat in die land en met hulle gebeur het. “Ons het nie ’n idee waardeer ons voorvaders alles is nie. Dalk skreeu ons te vinnig krisis as minder ernstige dinge met ons gebeur.”
Hy glo nie Afrikaners beleef ’n bestaanskrisis nie omdat hulle te sterk en gevestig daarvoor is. Volgens Beukman gaan Afrikaners nie in die toekoms as ’n kollektiewe groep op dieselfde manier en in dieselfde rigting op uitdagings reageer nie. Hy meen wel dat verby velkleur gekyk moet word vir die voortsetting van Afrikaans. Hy het ook die vraag gevra of dit nie noodsaaklik geword het dat Afrikaners kyk wat die Jode gedoen het om hulself as internasionale volk te vestig nie.
Pretorius het beaam dat die Afrikaner lankal nie meer – indien ooit – ’n homogene groep is nie. “Gegewe die geskiedenis sal ons oorleef. Elkeen moet egter daar waar hy hom bevind ’n verskil maak.”
Buys het gesê dit is belangrik om na die geskiedenis deur vandag se bril te kyk. Hy het na die nuwe bedeling en magshebbers verwys wat daarop ingestel is om hul eie ideologie op talle terreine (inligtingstelsels, media, skoolhandboeke) te institusionaliseer. “Die nuwe bedeling is daarop ingestel om alles in die ou bedeling te diskrediteer. Dit gaan oor een groep wat ’n ander vir alles blameer wat daartoe lei dat laasgenoemde ’n skuldkultuur ontwikkel het.”
Volgens Buys sien Afrikaners hulself as die “verloorgroep” wat tot gevolg het dat hulle baie in hulself twyfel. Die uitdaging is hoe die groep hieruit losbreek. “Die huidige regering en ANC-elite se visie vir die toekoms sluit nie die Afrikaner in nie. Die werklikheid is egter dat Afrikaners al verskeie bestaanskrisisse oorleef het. Hulle besef, soos in die verlede, dat hulle self verantwoordelikheid vir die skep van hul toekoms sal moet neem. En dit kan hulle doen omdat hulle verstaan dat met gemeenskapskrag baie meer as met staatsmag verrig kan word.”