Afrikaners kan ’n vry, veilige en voorspoedige toekoms in SA hê
Afrikaners staan soos in die verlede voor een van die grootste uitdagings in hul geskiedenis.
Om te oorleef en vir hulself as minderheid ’n plek in die land te vind, is dit nodig dat hulle opnuut hul roeping en verantwoordelikheid sal besef.
Die Solidariteit Beweging het vandag op sy Toekomsberaad in Pretoria ’n omvattende Helpmekaarplan 2020 bekend gemaak wat oor die volgende vyf jaar ingestel sal word.
Die plan behels onder meer die skep en verdere uitbouing van instellings waardeur mense hulself kan help.
Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, het gesê die Helpmekaar 2020-plan is nie ’n praatplan nie, maar ’n doenplan. “Daar is baie gepraat, maar nou gaan daar nog meer gedoen word.”
Die ontwikkeling van die plan spruit voort uit die uitdagings en probleme wat in Mei vanjaar tydens die beweging se Krisisberaad geidentifiseer is.
Die plan het in breë vyf onderafdelings naamlik:
- Goeie werk, anti-diskriminasie en opleiding.
- Geskiedenis, erfenisbewaring en Afrikaans.
- Selfstandige gemeenskappe, gemeenskappe wat self doen, gemeenskapsveiligheid, gemeenskapsmedia en die jeug.
- Kapitaalmobilisering
- Maniere hoe jy betrokke kan raak.
Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, het die belangrikheid van ’n toekoms deur goeie werk beklemtoon.
“Om van ’n vry, voorspoedige en veilige toekoms te praat, is goeie werk van kritiese belang. Die internasionale ekonomiese krisis, Suid-Afrika se verswakkende staat en die struktuur van die arbeidsmark beteken daar wag groot uitdagings vir die toekoms van werk.”
Hermann het gesê Solidariteit is in die Christelike tradisie van vakbondwese gesetel en glo in die vryemarkstelsel en goeie werksetiek. “Ons glo mense moet in staat gestel word om hul werk te kan doen, maar dat dit ook die primêre verantwoordelikheid van die individu is.”
Hy het gesê Solidariteit se taak is om meer as net ’n goeie werk vir mense te gee, naamlik betekenisvolle werk. Om dit te bewerstellig is dit belangrik dat na kwessies soos bemagtiging en beskerming in die werkplek, veldtogte teen rassekwotas en die Solidariteit Beweging se opleidingsplan gekyk moet word.
Solidariteit beplan om sy ledetal oor die volgende vyf jaar tot 200 000 uit te bou.
Afrikaanse beroepsverenigings gaan dwarsoor die ekonomie geskep word en professionele mense gaan gehelp word om suksesvol in hul professies te wees.
Op dié gebied gaan ’n elektroniese platform, Solidariteit Wêreld, omvattende diens en produkte lewer om goeie werk aan mense te verseker. Dit het ten doel om ’n omvattende en uitgebreide loopbaanontwikkelingsdiens aan werknemers beskikbaar te stel.
Solidariteit-lede sal bygestaan word met loopbaanbeplanning, die opstel van CV’s, voorbereiding vir onderhoude en vele meer. “Solidariteit gaan sy lede dus bystaan om meer suksesvol in hul werk te wees en om vir hulself ’n toekoms los te werk.”
Hermann het ook na regstellende aksie verwys en gesê die program het in rassetelling ontaard. “Dit het niks meer met regstelling te doen nie, maar alles met ras.”
Volgens Hermann gaan Solidariteit sy veldtogte teen rassekwotas verskerp.
Meer as 570 000 Suid-Afrikaners het onlangs die klag onderteken wat Solidariteit teen die regering se rasse-ideologie by die VN ingedien het. En in November sal die vakbond weer oor regstellende aksie in die Grondwet wees namens die werknemers van die departement van korrektiewe dienste.
Solidariteit het reeds 14 litigasiesake geidentifiseer waarin swart ekonomiese bemagtiging gepak sal word.