|

Afrikaanse skole vaar steeds baie goed

Die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) het pas hul Matriekverslag vir 2023 bekendgestel en dis duidelik dat Afrikaanse skole steeds baie goed presteer. Dié verslag toon dat Afrikaanse skole se matriekslaagsyfer 85,1% is, terwyl die nasionale slaagsyfer 82,9% is.

Alhoewel die matriekslaagsyfer vir skole in die land in 2023 tot 82,9% gestyg het en die Departement van Onderwys hulself gelukwens met wat hulle beskou as goeie vordering, is dié syfer misleidend. As ’n mens in ag neem dat minder as 50% van leerders wat gr. 1 in 2012 begin het uiteindelik in 2023 gematrikuleer het, skets dit ’n kommerwekkende prentjie vir die toekoms van die land. Verder het slegs 40,9% van suksesvolle matrikulante vir universiteitstoelating gekwalifiseer.

Iets anders wat die departement se aandag verg, is die aantal leerders wat vir matriek inskryf, maar nie hul eksamens aflê nie. In 2023 was daar 24 559 voltydse kandidate wat gedurende hul finale skooljaar uit die stelsel verdwyn het.

Elke provinsie toon ’n hoër matriekslaagsyfer vir 2023 as 2022, maar die Noord-Kaap, Mpumalanga en Limpopo se slaagsyfer het steeds nie 80% bereik nie. Hierdie drie provinsies se slaagsyfers was in 2023 onderskeidelik 75,8%, 77% en 79,5%. Die Oos-Kaap het sedert 2016 ’n merkwaardige verbetering gesien met ’n slaagsyfer wat van net minder as 60% tot 81,4% in 2023 gestyg het.

Volgens die SOS-verslag hang daar vraagtekens oor die uitslae in Besigheidstudies, Geografie en Geskiedenis. Toppresterende Afrikaanse skole bevraagteken hul leerders se onverklaarbare swak uitslae in dié vakke. Afrikaanse skole waarvan leerders jaar ná jaar onder die toppresteerders verskyn, het in 2023 nie eens die top 20-lyste gehaal nie. Leerders word aangemoedig om hul vraestelle te laat hermerk.

Afrikaanse skole se slaagsyfers in Wiskunde en Fisiese Wetenskappe vertoon goed tenoor ander skole in die land. In Wiskunde het 51% van 2023 se kandidate in Afrikaanse skole 50% of meer gekry. Daarteenoor het slegs 27,9% van leerders oor die hele land heen ’n finale Wiskunde-punt van meer as 50% gekry. In Fisiese Wetenskappe was dit 53,9% teenoor 31,3%.

Wat die aantal onderskeidings per skool betref het die Mbilwi Secondary School in Limpopo se 508 kandidate ’n totaal van 791 onderskeidings ingeoes. Kort op hul hakke was die Afrikaanse Hoër Meisieskool in Pretoria met 750 onderskeidings vir hul 219 kandidate. Drie Pretoriase skole, naamlik Hoërskool Waterkloof, Hoërskool Garsfontein en Hoërskool Menlopark, het die derde, vierde en vyfde plekke op hierdie ranglys ingepalm. Al drie dié skole het elk meer as 700 onderskeidings gekry.

Leon Fourie, uitvoerende hoof van die SOS

“Die 2023-matriekuitslae van veral Afrikaanse skole laat ’n mens vol moed vir die volgende geslag se potensiaal om ’n verskil te maak in ’n snelveranderende wêreld,” sê Leon Fourie, uitvoerende hoof van die SOS. “Onderwys is nie net kennisoordrag nie, maar ook kultuuroordrag. Die kultuur van uitnemendheid in die meeste Afrikaanse skole speel ’n belangrike rol om uitstekende uitslae te verseker.

“Die inligting vervat in vanjaar se SOS-verslag belig die toewyding van onderwysers en leerders wat saamwerk om merkwaardige resultate te bereik. Hierdie verslag is n getuigskrif van die krag en uitnemendheid van Afrikaanse skole in Suid-Afrika,” sê Fourie.

Lees die volledige verslag hier.

Soortgelyke plasings