“Afrikaans is ’n saak wat ons net kan wen”
Verdoemende uitsprake is die afgelope tyd oor die toekoms en voortbestaan van Afrikaans gemaak. ’n Mens kan in sak en as daaroor gaan sit of skouer aan die wiel sit. Alet Rademeyer het by Nicol Stassen, besturende direkteur van Protea Boekhuis, gaan hoor waarom hy glo dis nie tyd om handdoek in te gooi nie.
Dis ’n helder someroggend in Pretoria en dit wemel van besoekers, studente en boekwurms in Protea Boekwinkel in Burnettstraat, Hatfield. Oral staan pakke en pakke splinternuwe handboeke nog in plastiekomhulsels. Die rakke is tot teen die dak gevul met wonderlike en opwindende literêre werke en titels. Baie daarvan in Afrikaans.
Stassen is in sy kantoor op die boonste vloer aan die agterkant van die winkel, agter ’n groot lessenaar, boek in die hand. Hy neem ons op ’n kort besigtigingstoer deur die winkel, wat ’n mens eenvoudig nie anders as indrukwekkend kan beskryf nie.
Wanneer ons oor boeke, Afrikaans, sy uitgewery, sy liefde vir geskiedenis, asook skrywers en navorsing begin praat, dan weet ’n mens waarom jy nié na die doemprofete moet luister nie.
“As ek nie in Afrikaans en die toekoms van die taal geglo het nie, sou ek nie 25 jaar gelede met ’n boekwinkel begin het en hoofsaaklik in Afrikaans gepubliseer het nie. Afrikaans is nie ’n verlore saak nie. Dis ’n saak wat ons net kan wen.”
Oor die Kovsies-uitspraak en die implikasies daarvan meen hy dis maar tyd dat die skille van mense se oë afval wat konstitusionele kwessies in die land betref. “Ons was veronderstel om met die nuwe Grondwet ’n Konstitusionele Hof te kry waar konstitusionele beginsels in uitsprake geld. Ons het nou die situasie dat goed beredeneerde beslissings van die appèlhof, wat die hoogste hof in die land is, keer op keer deur die Konstitusionele Hof omgekeer word. Mense is verkeerdelik onder die waan dat regters van die Konstitusionele Hof van regsbeginsels gebruik maak. Ek was self al aan die ontvangkant van ’n uitspraak wat duidelik ’n rassistiese uitspraak was. ’n Mens sien ook nou keer op keer uitsprake in sake waar al die swart regters oor iets sal saamstem en al die wit regters dalk anders voel. Dit is darem net té ooglopend dat besluite op grond van velkleur en nie op grond van regsbeginsels gemaak word nie.”
Stassen meen Afrikaanssprekendes sal eenvoudig hul stem harder moet laat hoor wanneer dit byvoorbeeld by hul taalregte kom. Met verwysing na die gebeure by die Hoërskool Overvaal in Vereeniging meen hy dit lyk asof mense eerder hul sin kry deur magsvertoon. “Miskien is ons bietjie té ordentlik. Ek sê nie ons moet skole afbrand soos wat in Vuwani gedoen is nie. Maar ons moet harder baklei en minder gelate aanvaar wat op ons afgedwing word.”
En dit is ook waarom hy ’n organisasie soos AfriForum ondersteun wat op ’n beskaafde manier ’n verskil maak en vir minderhede se regte opstaan wat hier misken word, terwyl dieselfde regte elders in die wêreld as vanselfsprekend erken word.
“Ek kan my nie die situasie in die land ten opsigte van spesifiek Afrikaanssprekendes se regte indink as dit nie vir ’n organisasie soos AfriForum was nie. As AfriForum nie teenstand bied teen baie goed wat aan ons opgedring word nie, sou dit heeltemal anders gewees het. AfriForum wys jy kan jou rug op ’n beskaafde manier styf maak. Dit gee mense hoop. Diegene wat AfriForum soms met ’n rassisme-teerkwas bykom, het nie ’n benul wat die organisasie doen nie.”
Stassen glo ook in moedertaalonderrig as ’n reg waarop mense kan aandring. Hy glo daar is nog baie Afrikaanse ouers wat lojaal teenoor Afrikaans is. Vir diegene wat nie só lojaal is nie, herinner hy dat die mense wat die eerste hartoorplantings gedoen en selfs Nobelpryse ontvang het, uit Afrikaanse skole gekom het. “’n Mens kry wêreldgehalte-onderrig in Afrikaans. Dit is baie jammer dat daar ’n persepsie bestaan dat ander inheemse tale en onderrig in dié tale minderwaardig is. Ek verstaan heeltemal waarom ’n Zoeloe-ouer eerder sy kind na ’n Engelse skool stuur waar hy óók met ’n agterstand begin eerder as na ’n Zoeloe-skool. Dit sal nie verander voordat die regering die artikel in die Grondwet begin eerbiedig dat die regte van inheemse tale gerespekteer moet word nie.”
Wat die Afrikaanse uitgewersbedryf betref, is Stassen ook baie positief. “Wêreldwyd het die boekbedryf die afgelope agt jaar bietjie gestagneer. Dit begin nou weer optel. In Suid-Afrika was dit in ’n mate ook so. Kyk jy egter na navorsing en statistiek oor die Afrikaanse boekbedryf, sien jy dit het die afgelope dekade merkwaardig gegroei. Selfs verdubbel. Ten minste vier van die tien grootste uitgewerye in die land is Afrikaans. Afrikaanse lesers is lojaal. Dit is vir my ’n lekker omgewing om my in te bevind.”
Wat wel vir hom onrusbarend is, is dat daar verlede jaar minder as een boek per Afrikaanse spreker verkoop is. Dit kan beter en in stede daarvan om van podiums af vir Afrikaans te skreeu, kan mense eerder die saak ondersteun deur Afrikaanse boeke te koop.
Protea Boekhuis het al baie boeke uitgegee wat Stassen weet nie geld sou maak nie. “Ons het ’n reputasie om goeie boeke uit te gee waaraan ander uitgewers nie wil raak nie. Ek het die voordeel dat die maatskappy net aan myself behoort. Het nie aandeelhouers waaraan ek verantwoording moet doen vir besluite nie.
“Dit het begin met poësiebundels. Toe daar amper nie meer Afrikaanse digbundels uitgegee is nie, het ons dit gedoen en dit het ons ’n ongelooflike naam gegee. As ons dieselfde goed uitgegee het as kommersiële uitgewers, sou ons niks tot die uitgewersbedryf toegevoeg het nie.”
Stassen is ook veral trots op die geskiedenisboeke wat Protea uitgee. Hiervoor is hy met ’n spesiale erepenning van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns vereer. ’n Goeie voorbeeld van die unieke boeke wat hy uitgee, is die werke van Karel Schoeman. Sy vorige uitgewer het besluit om nie meer sy geskiedeniswerke uit te gee nie. “Ons het nou so 27 geskiedenisboeke en 13 manuskripte van hom uitgegee. Dit is altesaam 40 werke van net een skrywer wat nie uitgegee sou gewees het nie.”
Stassen is ook nie skaam of lugtig om werke te publiseer wat sommige mense as “omstrede” kan bestempel nie. So byvoorbeeld word van die heel belangrikste toesprake van wyle dr. Hendrik Verwoerd binnekort uitgegee. “Mense verstaan soms nie hoekom ons dit doen nie. Ons probeer nie die geskiedenis goedpraat nie. Ons doen dit sodat mense die geskiedenis beter kan verstaan.”
En lank is dit nog het einde niet. Die grootste projek wat hy nog in sy persoonlike lewe wil aanpak, is die navorsing oor sy eie familie. “Dit begin ’n interessante ding word, maar dis nie naastenby so omvangryk soos my navorsing oor die Afrikaners in Angola nie. Daar is nog ’n magdom boeke wat hieroor moet kom. Dit is geweldig interessant en glad nie vervelige geskiedenis met datums en feite nie.”
Vir dié werk het hy so 15 keer na Namibië gereis waar hy navorsing gedoen het oor Afrikaners van Angola wat hierheen getrek het. Hy is baie bly dat hy vroeër daarmee begin het, omdat daar bitter min mense oor is wat nog die geskiedenis kan onthou en oorvertel.
Die ander groot taak waarmee hy wil voortgaan en wat ’n hoogtepunt is, is die beskikbaarstelling van die beste letterkundige werke ter wêreld in Afrikaans. Nagenoeg 60 van die beste boeke ter wêreld word jaarliks vertaal. “Oor ’n lang tydperk is dít ’n groot projek.”
Dit en dat oor Nicol Stassen
- Hy het chemiese ingenieurswese studeer en klaargemaak. Daarna het hy Afrikaans, Duits en Russies aan Unisa studeer. Hy het ook sy doktorsgraad in geskiedenis verwerf.
- Een van sy gunstelingwoorde in Afrikaans is “gogga”.
- Sy lewe wentel nie net om boeke nie. Musiek, veral klassieke musiek, en reis is groot voorliefdes.
- Sy raad aan voornemende skrywers is: Lees, lees, lees en nogmaals lees.
- Onder sy toptien-boeke van alle tye is: Faust deur Goethe, die werke van Plato, Bart Nel deur Jan van Melle, asook Oorlog en Vrede en Anna Karenina deur Leo Tolstoi.
- Die eerste boek wat hy laat herdruk het: F.A. Venter se Offerland.
- Een van die hoogtepunte in sy loopbaan: Die publikasie van sy eie boek, Die Dorslandtrek, 1874 – 1881.
- Hy is ’n gesinsman en tuis draai sy lewe om sy vrou Chrissie-Jane, die 10-jarige Anna, ’n hond en twee skilpadjies. Sy drie ouer kinders – Talita, Liesl en Nicol – kuier ook gereeld saam.